Bybele Beginsels
Studie 10: Die Doop
Die Lewensbelangrikhied Van Die Doop | Hoe Moet Ons Gedoop Word ? | Die Betekenis Van Die Doop. | Die Doop En Saligheid | Inset (Her-Doop, Die Vlak Van Kennis Wat Vereis Word Voor Die Doop, Die Dief Aan Die Kruis, 'N Voorbeeld Van 'N Doopdiens) | Vrae

Inset 32: Die Dief Aan Die Kruis

Die dief het aan Jesus gesê: "Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees" (Lukas 23:42,43).

Hierdie verse word deur baie aangehaal om te bewys dat die doop nie nodig is vir redding nie, en dat ons reguit Hemel toe gaan as ons sterf. Behalwe vir die talle ander bewyse dat dit nie die geval is nie, wys díe gedeelte by nadere beskouïng die volgende:-

  1. Die opdrag om in Christus se dood gedoop te word was na Christus se wederopstanding gegee (Markus 16:15,16). Die dief het nog onder die Wet van Moses geleef toe Jesus met hom gepraat het.

  2. Die ware doop is in die dood en opstanding van Jesus. Siende dat nie een van hierdie twee gebeurtenisse nog plaasgevind het toe Jesus met die dief gepraat het nie, was die doop in Christus nog nie moontlik nie.

  3. Die doop simboliseer ons sterwe saam met Christus (Romeine 6:3-5). Die dief was die enigste persoon wat dit letterlik gedoen het.

  4. Die dief het Jesus gevra om hom te onthou wanneer hy (Jesus) in sy Koninkryk sou kom. Hy het dus geweet van die Evangelie van die Koninkryk van God wat Jesus verkondig het (Mattheus 4:23). Hy het ook geweet dat daar 'n oordeelsdag sou wees. Hy was definitief nie oningelig nie. Hy het geweet dat verlossing in die dag van die opstanding en deur die oordeel van Christus gebring sou word.

  5. Jesus het geantwoord dat die dief met hom in die "Paradys" sou wees. Hierdie Griekse woord verwys altyd na 'n ideale toestand op die aarde. Dit word gebruik aangaande die tuin van Eden wat herstel word en in die toekomstige Koninkryk van God op aarde gesien sal word (Openbaring 2:7). Gedurende hierdie Koninkryk van God sal die aarde laat terugkeer na 'n paradys-toestand, soos die tuin van Eden was (Jesaja 51:3; Esegiël 36:35), omdat die vloek weggeneem sal wees (Openbaring 22:3).

  6. Die Griekse Ou Testament (Septugiant) gebruik ook dieselfde woord "paradys" om idilliese toestande op aarde te beskryf in Prediker 2:5; Nehemia 2:8; Hooglied 4:13; Genesis 13:10.

Die "Paradys" het met die Hemel geassosieer geraak as gevolg van die gebruik van die woord in fiksie verhale soos "Paradise lost" van Milton. Jesus se belofte aan die dief van 'n plek in die paradys was in reaksie op die dief se begeerte om in die Koninkryk te wees. Ons het in Studie 5 gewys dat hierdie Koninkryk op die aarde sal wees; die "paradys" sal dus ook daar wees.

Tog lyk dit of Jesus die dief belowe dat hy dieselfde dag in die paradys sou wees. Die antwoord op hierdie oënskynlike weerspreking is te vinde in die feit dat daar geen leestekens of selfs hoofletters in die oorspronklike Grieks is nie. Dit is dan heel moontlik dat Jesus die volgende kon gesê het : "Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met my in die paradys wees" Rotherham se vertaling plaas juis die komma na "vandag".

Dit pas mooi in by die konteks. Die dief het gevra dat Jesus hom moet onthou in die oordeelsdag. Jesus gee hom egter die versekering - "Ek kan jou nou sê, jy hoef nie te wag tot met die dag van die oordeel om my uitspraak te hoor nie - jy sal saam met my in die Koninkryk wees!"

Die punte soos hierbo genoem maak dit moontlik om die volgende lys te maak van leringe wat die dief begryp het:-

  • die Koninkryk van God

  • die tweede koms van Christus

  • wederopstanding en die oordeel

  • verantwoordelikheid voor God

  • redding deur geloof in Christus

  • die wederopstanding van Jesus

  • die sondeloosheid van Jesus

  • die nodigheid om Jesus te volg (hy noem Jesus "Here")

  • die sondigheid van die mens

Dit is dus nie korrek om hierdie man as 'n voorbeeld te gebruik van iemand wat gered kan word deur net 'n geringe belangstelling in die Christendom te toon nie. Daar moet 'n begrip van die basiese leringe, soos wat die dief gehad het, wees. Daarsonder sou hy nie die vlak van geloof bereik het wat hy aan die kruis getoon het nie. Christus het nie aan die ander dief enige redding gebied nie. Sy houding was "As u die Christus is, red uself en ons". Dit is soos 'n man wat sê "As daar enige iets in hierdie storie van Jesus is, kan ek nie sien hoekom ek nie ook iets daaruit kan kry nie." Omdat hy nie die leringe verstaan het nie kon hy nie die ware saligheid verkry nie - sy verbygaande belangstelling in Jesus nieteenstaande.


  Back
Home
Next