Bybele Beginsels
Studie 7: Die Oorsprong Van Jesus
Ou Testamentiese Profesieë Oor Jesus | Die Maagdelike Geboorte | Christus Se Posisie In God Se Plan | "In Die Begin Was Die Woord" (Johannes 1:1-3) | Inset (Die Historiese Jesus, "Ek Het Uit Die Hemel Neergedaal", Het Jesus Die Aarde Geskape?, "Voordat Abraham Was, Is Ek.", Melgisedek) | Vrae

Inset 26: Melgisedek.

Menige Bybelstudent het al die woorde van die apostel Petrus beaam waar hy die volgende skryf: " En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf " (2 Petrus 3:15,16).

Dit is sekerlik van toepassing op Paulus se kommentaar oor Melgisedek wat in Hebreërs 5 opgeteken staan. Paulus self erken dat hy oor diep dinge praat wat net deur baie volwasse gelowiges begryp sou word (Hebreërs 5:10,11,14). Dit is dus nie raadsaam om fundamentele doktrines op die lering van sulke verse te baseer nie. So ook moet die versgedeeltes oor Melgisedek nie te prominent in die gedagtes wees van diegene wat nog die basiese leerstelling moet leer nie.

" Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het; aan wie Abraham ook 'n tiende deel van alles gegee het--hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede; sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur " (Hebreërs 7:1-3).

Hieruit redeneer sommige dat Jesus fisies voor sy geboorte bestaan het en dus geen menslike ouers gehad het nie. Jesus het 'n Vader (God), 'n moeder (Maria) en 'n geslagsregister (Mattheüs 1 en Lukas 3 en Johannes 7:27) gehad. Melgisedek kan dus nie na hom persoonlik verwys nie. En Melgisedek was in elk geval "… gelykgestel aan die Seun van God, ….. " (Hebreërs 7:3).

Hy was nie Jesus self nie, maar het sekere soortgelyke eienskappe as Jesus gehad wat deur die skrywer gebruik word om vir die leser 'n beginsel te leer. "En nog baie duideliker is dit as daar 'n ander priester opstaan na die ewebeeld van Melgisédek " (Hebreërs 7:15), is dit Jesus wat as 'n priester verorden is "….. volgens die orde van Melgisédek " (Hebreërs 5:5,6).

Die taal van die boek Hebreërs oor Melgisedek kan eenvoudig nie letterlik geneem word nie. As Melgisedek letterlik nie 'n vader of moeder gehad het nie, dan kon die enigste persoon wie hy kon wees net God self gewees het. God is die enigste persoon sonder 'n begin (1 Timotheüs 6:16; Psalm 90:2). Volgens Hebreërs 7:4 was Melgesidek egter 'n man en het hy aan God offerandes gemaak. As hy 'n mens genoem word moes hy letterlike ouers gehad het. Die feit dat hy "sonder vader, sonder moeder …" was, verwys dus na die feit dat sy herkoms en ouers nie in die Skrif aangeteken is nie. Koningin Ester se ouers word ook nie aangeteken nie en haar agtergrond word in 'n soortgelyke manier beskryf. Mordegai: "… was die opvoeder van Hadássa, dit is Ester, die dogter van sy oom, want sy het geen vader of moeder gehad nie; en die jongmeisie was skoon van gestalte en mooi van aansien, en by die dood van haar vader en haar moeder het Mórdegai haar as sy dogter aangeneem" (Ester 2:7).

Die boek Genesis stel gewoonlik die familie agtergrond van die karakters wat genoem word, deeglik voor. Melgisedek verskyn egter op die toneel sonder enige "aankondiging"- sonder dat sy ouers genoem word. Hy verdwyn dan net so skielik van die toneel af. Daar is egter geen twyfel dat hy hoë respek waardig was nie – selfs die vername Abraham het tiendes aan hom betaal en was deur hom geseën. Hy was dus verhewe bo Abraham (Hebreërs 7:2,7).

Paulus het 'n spesifieke rede waarom hy van Melgisedek praat. Daar was 'n werklike probleem in die eerste eeu wat die Melgisedek voorbeeld kon oplos. Die Jode het geredeneer: "Julle Christene vertel ons dat hierdie Jesus nou ons hoë priester kan wees wat ons gebede en werke aan God kan offer. 'n Priester moet egter 'n geslagsregister hê wat bekend is en wat bewys dat hy van die stam Levi afkomstig is. Julle erken self dat Jesus van die stam Juda is (Hebreërs 7:14). Jammer, Abraham is vir ons 'n beter voorbeeld en leier (Johannes 8:33,39) en ons respekteer dus nie vir Jesus nie".

Paulus antwoord hierop as volg : "Maar onthou Melgisedek. Die Genesis verhaal wys dat so 'n vername priester geen geslagsregister gehad het nie en dat die Messias beide koning en priester sal wees. So 'n priesterskap is dus volgens die voorbeeld van Melgisedek (Hebreërs 5:6 vergelyk Psalm 110:4). Abraham was ondergeskik aan Melgisedek. Julle moet dus julle klem verskuif vanaf Abraham na Jesus, en ophou om geslagsregisters as so belangrik te sien (vergelyk 1 Timotheüs 1:4). As julle mooi dink oor hoe veel Melgisedek 'n tipe van Jesus is (met ander woorde die detail van sy lewe het na Jesus heen gewys) sal julle 'n beter begrip vir die werk van Christus hê". Ons kan dit as 'n les vir onsself neem.


  Back
Home
Next