Bybele Beginsels
Studie 7: Die Oorsprong Van Jesus
Ou Testamentiese Profesieë Oor Jesus | Die Maagdelike Geboorte | Christus Se Posisie In God Se Plan | "In Die Begin Was Die Woord" (Johannes 1:1-3) | Inset (Die Historiese Jesus, "Ek Het Uit Die Hemel Neergedaal", Het Jesus Die Aarde Geskape?, "Voordat Abraham Was, Is Ek.", Melgisedek) | Vrae

7.1 Ou Testamentiese Profesieë Oor Jesus

Studie 3 het verduidelik hoe God se doel m.b.t. die verlossing van die mens in Jesus Christus gesentreer is. Die beloftes wat God aan Eva, Abraham en Dawid gemaak het, verwys almal na Jesus as hul letterlike nageslag. Die hele Ou Testament wys inderdaad vooruit na, en profiseer oor Christus. Die Wet van Moses, wat Israel voor Jesus se bestaan moes gehoorsaam, het vooruit na Jesus gewys: "Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof" (Galasiërs 3:24).

So byvoorbeeld moes 'n lam sonder enige gebrek tydens Pasga geslag word (Eksodus 12:3-6). Dit het die offer van Jesus, "die Lam van God wat die sonde van die wêreld sou wegneem", verteenwoordig (Johannes 1:29; 1 Korinthiërs 5:7). Die foutlose toestand wat van al die diere-offers vereis was, het vorentoe gewys na die perfekte karakter van Jesus (Eksodus 12:5 vergelyk 1 Petrus 1:19).

Die Psalms en profete in die Ou Testament bevat menige profesieë oor hoe die Messias sou wees. Hulle fokus ook op hoe hy sou sterf. Die Jode se weiering om die idee van 'n Messias wat moes sterf te aanvaar, kan alleenlik toegeskryf word aan hulle onkunde oor hierdie profesieë, 'n paar wat ons nou voorlê:

Ou Testamentiese Profesie

Vervulling in Christus

Psalm 22:1 – "My God, my God, waarom het U my verlaat,?"

Hierdie was die presiese woorde van Jesus op die kruis (Mattheüs 27:46).

Psalm 22:7-9 – "Maar ek is 'n wurm en geen man nie, 'n smaad van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê "Laat dit aan die HERE oor! Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry: Hy het mos behae in hom !"

Die Jode het Jesus geminag en bespot (Lukas 23:35; 8:53); hulle het hulle koppe geskud (Mattheüs 27:39) en gesê "hy vertrou in God, laat die hom red" (Mattheüs 27:43).

Psalm 22:16,17 - … my tong kleef aan my verhemelte; ….. hulle het my hande en my voete deurgrawe.

Jesus was bitter dors op die kruis (Johannes 19:28). Die hande en voete wat deurboor is wys na die kruisiging.

Psa 22:19 – Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot …"

Die presiese vervulling hiervan word in Mattheüs 27:35 gevind.

Let daarop dat Psalm 22:23 spesifiek in Hebreërs 2:12 aangehaal word as sou dit betrekking hê op Jesus.

" Vreemd het ek vir my broers geword en 'n onbekende vir die seuns van my moeder.

Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval" (Psalm 69:9,10).

Dit beskryf duidelik die gevoel van vervreemding wat Jesus t.o.v. sy eie familie en van die Jode gehad het. (Johannes 7:3-5; Mattheüs 12:47-49). Dit word in Johannes 2:17 aangehaal.

"En hulle het aan my gal gegee as my spys, en vir my dors het hulle my asyn laat drink" (Psalm 69:22).

Dit het gebeur terwyl Christus aan die kruis gehang het (Mattheüs 27:34).

Die hele Jesaja 53 is 'n merkwaardige profesie van Jesus se dood en wederopstanding waarvan elke vers 'n vervulling het. Net twee voorbeelde word hier aangegee:

"Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders--ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie" (Jesaja 53:7).

Christus, die Lam van God, het stil gebly gedurende sy verhoor (Mattheüs 27:12,14).

"En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie" (Jesaja 53:9).

Jesus was saam met kriminele gekruisig (Mattheüs 27:38), maar in die graf van 'n ryk man begrawe (Mattheüs 27:57-60).

Dit is geen wonder nie dat die Nuwe Testament ons herhinner dat die "wet en die profete" van die Ou Testament die basis vir ons kennis oor Christus is nie (Romeine 1:2,3; Handelinge 26:22; 28:23; Romeine 16:25,26). Jesus self het gewaarsku dat as ons nie "Moses en die profete" verstaan nie, ons hom nie kan verstaan nie (Lukas 16:31; Johannes 5:46,47).

Die feit dat die Wet van Moses vorentoe na Jesus gewys het, en die profete oor hom geprofeteer het, is bewys genoeg dat Jesus nie fisies voor sy geboorte bestaan het nie. Die vals leerstelling dat Jesus voor sy geboorte bestaan het, maak die herhaaldelike beloftes dat hy die nageslag (nakomeling) van Eva, Abraham en Dawid sou wees, sinneloos.

As hy reeds in die hemel bestaan het ten tye van hierdie beloftes, sou God verkeerd gewees het om hierdie mense 'n nakomeling te belowe wat die Messias sou wees. Die geslagsregisters van Jesus in Mattheüs 1 en Lukas 3 wys dat Jesus die nakomeling is van die mense aan wie God die belofte gemaak het.

Die beloftes aan Dawid rakende Jesus maak die fisiese bestaan van Jesus ten tye van hierdie beloftes onmoontlik :- " As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.

Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees;"… (2 Samuel 7:12,14).

Let op die toekomstige sin waarin hierdie beloftes gemaak word. Aangesien God Jesus se Vader sou word, is dit onmoontlik dat die Seun van God reeds ten tye van die beloftes kon bestaan. Dat hierdie nakomeling "uit die vrug van sy liggaam" sou kom, wys dat Jesus 'n letterlike en fisiese nakomeling van Dawid sou wees. "Die HERE het aan Dawid gesweer in waarheid (Hy sal daarvan nie terugkom nie): Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon" (Psalm 132:11).

Salomo het hierdie belofte gedeeltelik vervul, maar aangesien hy reeds bestaan het ten tye van die belofte (2 Samuel 5:14), sou hierdie belofte eers ten volle in Jesus vervul word (Lukas 1:31-33). "Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land" (Jeremia 23:5) – dit is die Messias.

Voorbeelde van soortgelyke profesieë wat oor Jesus se toekomstige bestaan handel, is die volgende:- "'n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel" (Deuteronomium 18:18). Hierdie profesieë word in Handelinge 3:22,23 aangehaal en identifiseer die "profeet" as Jesus. "Daarom sal die HERE self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem" (Jesaja 7:14). Dit is duidelik vervul met Jesus se geboorte (Mattheüs 1:23).


  Back
Home
Next