Bybele Beginsels
Studie 6: God En Onheil
God En Onheil | Die Duiwel En Satan | Duiwels | Inset (Toordery, Wat Het In Eden Gebeur?, Lucifer, Die Versoekinge Van Jesus, Oorlog In Die Hemel) | Vrae

Inset 18: Wat Het In Eden Gebeur?

Genesis 3:4-5: "Toe sê die slang vir die vrou: julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken."

Algemene interpretasie

Dit word verkeerdelik aanvaar dat die slang hier 'n engel is wat gesondig het, en wat "Satan" genoem word. Nadat hy uit die hemel gewerp is oor sy sonde, het hy aarde toe gekom en vir Eva versoek om te sondig.

Kommentaar

  1. Die gedeelte praat van "die slang". Die woorde "Satan" en "duiwel" kom nie in die hele boek van Genesis voor nie. Die slang in Eden was 'n letterlike dier.

  2. Nooit word die slang beskryf as 'n engel nie.

  3. Dit is dus nie verbasend dat daar in Genesis geen verwysing is na enigiemand wat uit die hemel gewerp is nie.

  4. Die sonde bring die dood (Romeine 6:23). Engele kan nie sterf nie (Lukas 20:35-36), dus kan engele nie sondig nie. Die beloning van die regverdiges is om soos die engele te wees, en om nie meer te kan sterf nie. As die engele kon sondig, dan sou die regverdiges ook kon sondig en derhalwe die moontlikheid hê om te kan sterf. Dit sou beteken dat hulle nie regtig die ewige lewe kan hê nie.

  5. Die karakters wat betrokke is in die Genesis verhaal van die sondeval van die mens is: God, Adam, Eva en die slang. Niemand anders word genoem nie. Daar is geen aanduiding dat enige iemand binne die slang gegaan het om dit te maak doen wat dit gedoen het nie. Paulus sê dat die slang "Eva deur sy (eie) listigheid bedrieg het" (2 Korinthiërs 11:3). God het vir die slang gesê: "Omdat jy dit gedoen het ....." (Genesis 3: 14). As "Satan" die slang gebruik het, waarom word hy nie genoem nie en waarom is hy nie gestraf nie?

  6. Adam het vir Eva blameer vir sy sonde: "Sy het my van die boom gegee" (Genesis 3:12). Eva het die slang blameer: "Die slang het my bedrieg, en ek het geëet" (Genesis 3:13). Die slang het nie die duiwel blameer nie - hy het geen verskoning gemaak nie.

  7. As dit gesê word dat slange vandag nie die vermoë het om te praat of om te redeneer nie, soos die slang in Eden gehad het, onthou dat:-

    1. Aan 'n donkie die mag gegee is om te praat en te redeneer met 'n man (BILEAM): "Die (normaalweg) stom lasdier het met die stem van 'n mens gepraat en die waansinnigheid van die profeet verhinder" (2 Petrus 2:16), en

    2. Die slang was een van die intelligentste van al die diere (Genesis 3:1). Die vloek daarop sou die vermoë wat dit gehad het om met Adam en Eva te praat, weggeneem het.

  8. God het die slang geskape (Genesis 3:1); 'n ander wese wat "Satan" genoem is, het nie in 'n slang verander nie. As ons dit glo, dan sê ons in werklikheid dat een persoon die lewe van 'n ander kan binnegaan en dit beheer. Dit is 'n heidense idee, nie 'n Bybelse een nie. As dit gesê word dat God nie die slang sou skep weens die groot sonde wat dit Adam en Eva verlei het om te doen nie, onthou dan dat die sonde in die wêreld gekom het deur die mens (Romeine 5:12); die slang was dus amoreel, met ander woorde dit het geen sin van moraliteit gehad nie, en het gepraat na aanleiding van die natuurlike waarnemings wat dit gemaak het. As sulks was dit nie voor God verantwoordelik nie en kon die slang dus nie sondig nie.

Party mense sê dat die slang van Genesis 3 verband hou met die serafs. Maar die normale Hebreeuse woord vir "slang", wat in Genesis 3 gebruik word, hou geen verband met die woord vir "serafs" nie. Die Hebreeuse woord wat "serafs" vertaal word beteken basies "brandend" of "giftig" en word "giftige slang" in Numeri 21:8 vertaal, maar dit is nie die woord wat as "slang" vertaal word in Genesis. 3 nie. Die Hebreeuse woord vir koper kom van dieselfde oorsprong as die woord vir "slang" in Genesis 3. Koper verteenwoordig sonde (Rigters 16:21, 2 Samuel 3:34; 2 Konings 25:7; 2 Kronieke 33:11; 36:6), en dus kan die slang gekoppel word aan die idee van sonde, maar nie 'n sondige engel nie.

VOORGESTELDE VERKLARINGS oor die betekenis van hierdie teksgedeelte:

  1. Daar is geen rede om te twyfel dat wat ons oor die skepping en die sondeval in die vroeë hoofstukke van Genesis lees, letterlik geneem moet word nie. "Die slang" was letterlik 'n slang. Die feit dat ons vandag slange kan sien wat op hulle mae seil, in vervulling van die vloek wat op die oorspronklike slang geplaas is, bewys dit. Net so sien ons mans en vrouens wat ly onder die vloeke wat op hulle in daardie tyd geplaas is. Ons kan verstaan dat Adam en Eva letterlik 'n man en 'n vrou was, soos ons vandag mans en vrouens ken. Derhalwe was die oorsponkilike slang 'n letterlike, maar meer intelligente dier as die slange van vandag.

  2. Die volgende is verdere aanduidings dat die vroeë hoofstukke van Genesis letterlik gelees moet word:-

    • Jesus het verwys na die vertelling van Adam en Eva se skepping as die basis van wat hy oor die huwelik en egskeiding geleer het (Mattheüs. 19:5-6); daar is geen sprake dat hy dit figuurlik gelees het nie.

    • "Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie (deur die slang)verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom" (1 Timotheüs 2:13,14) - dus het Paulus ook Genesis letterlik gelees. Hy skryf vroeër oor hoe "die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het" (2 Korinthiërs 11:3) - let op dat Paulus nie sê dat die "duiwel" vir Eva bedrieg het nie.

    • Is daar hoegenaamd enigiets wat dui daarop dat die vertelling van die skepping en sondeval figuurlik gelees moet word? Volgens Genesis 1 is die wêreld in 6 dae geskep. Dat hierdie letterlike dae van 24 uur is, word bewys deur die feit dat die verskillende dinge wat op verskillende dae geskep is, nie sonder mekaar kon bestaan vir langer as 'n paar dae nie. Die plante wat op die derde dag gemaak is sou afhanklik wees van bye, ens. wat eers op die sesde dag gemaak is. 'n Groot gaping tussen hulle skepping sou dus onvanpas wees. Dat die dae nie periodes van 1000 jaar of meer was nie kan gesien word in die feit dat Adam op die sesde dag geskape is, maar gesterf het na die sewende dag to hy 930 jaar oud was (Genesis 5:5). As die sewende dag 'n periode van 1000 jaar was, sou Adam ouer as 1000 jaar moes wees toe hy sterf.

    • Verdere bewys vir letterlike dae van die skepping kan gevind word in die Sabbat Wet van Eksodus 20:10,11. Die Sabbat moes 24 uur van rus wees want God het op die sewende dag gerus, nadat hy vir ses dae gewerk het (soos Israel moes doen voor die Sabbat).

  3. Omdat die slang vervloek is om op sy maag te seil (Genesis 3:14), kan die implikasie wees dat dit voorheen bene gehad het; voeg hierby sy vermoë om te redeneer, kan dit dan wees dat hy die diersoort naaste aan die mens was. Maar dit was beslis 'n dier (Genesis 3:1 en 14).

  4. Miskien het die slang van die boom van kennis geëet, wat sy listigheid sou verklaar. Eva het gesien dat "die boom goed was om van te eet en 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te kry" (Genesis 3:6). Hoe sou sy dit kon sien tensy sy die resultaat kon sien van iets wat dit reeds gedoen het? Dit kan wees dat Eva verskeie gesprekke met die slang gehad het, voor die een wat in Genesis 3 voorkom. Die eerste woorde wat opgeteken is van die slang aan Eva is, "is dit ook so dat God gesê het ..........?" (Genesis 3:1). Die woord "ook" is moontlik 'n aanduiding dat hierdie 'n voorsetting was van 'n vorige gesprek wat nie opgeteken is nie.


  Back
Home
Next