Bybele Beginsels
Studie 6: God En Onheil
God En Onheil | Die Duiwel En Satan | Duiwels | Inset (Toordery, Wat Het In Eden Gebeur?, Lucifer, Die Versoekinge Van Jesus, Oorlog In Die Hemel) | Vrae

6.3 Duiwels

Die vorige twee afdelings het verduidelik waarom ons nie glo dat die duiwel of satan 'n persoonlike wese of monster kan wees nie. As ons aanvaar dat daar nie so 'n wese is nie, dan volg dit tog dat duiwels, of demone, wat voorgehou word as dienaars van die duiwel, ook nie bestaan nie. Baie mense dink dat God vir ons al die goeie dinge van die lewe gee, terwyl die duiwel en sy trawante vir ons die slegte gee, en die goeie dinge wat God vir ons gee weg vat. Die Bybel leer duidelik dat God die bron van alle krag is (sien studie 6.1), en dat Hy verantwoordelik is vir beide die goeie en die slegte dinge in ons lewens:-

"Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen" (Jesaja 45:6,7).

" . . . omdat onheil neerdaal van die HERE na die poort van Jerusalem" (Miga 1:12).

" Sal die basuin in die stad geblaas word en die bevolking nie skrik nie? Sal daar 'n onheil in die stad voorval as die HERE dit nie bewerk het nie?"(Amos 3:6).

Wanneer ons dan beproef word, moet ons aanvaar dat dit van God kom en moet ons dit nie op 'n duiwel blameer nie. Job was 'n man wat baie van die goeie dinge waarmee God hom geseën het, verloor het, maar tog sê hy nie: : "Hierdie duiwels het alles wat God my gegee het, weggeneem." nie. Nee, luister wat hy gesê het :

"Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! " (Job 1:21).

"Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?" (Job 2:10).

As ons eers verstaan dat alle dinge van God is, en dat Hy soms nie al die probleme in ons lewens sal wegneem nie, selfs al vra ons Hom, kan ons seker wees dat Hy dit so wil sodat ons karakters opgebou word en dat ons op die ou end net kan baat daardeur:- "En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here (nie duiwels nie !) tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie" (Hebreërs 12:5-8).

God : die Bron van alle Krag

God is die bron van alle krag :-

"Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie;" (Jesaja 45:5) (die Hebreeuse woord vir "god" beteken "krag")

" Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie, Is daar 'n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie" (Jesaja 44:8).

". . . weet dat die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie " (Deuteronomium. 4:35).

Sulke verse kom oor en oor in die Bybel voor. Omdat God die enigste god is en omdat Hy die bron van alle krag is, is Hy 'n jaloerse God en herinner Hy ons ook dikwels hieraan. (Byv. Eksodus 20:5 ; Deuteronomium. 4:24).

God word jaloers wanneer Sy mense begin glo in ander gode, wanneer hulle vir Hom sê "U is 'n groot God, 'n magtige God, maar eintlik glo ek dat daar ander gode buiten U is, al is hulle nie so magtig soos U nie." Dit is hoekom ons nie kan glo dat daar demone of 'n duiwel bestaan nie. Dit is presies die fout wat Israel gemaak het. Baie van die Ou Testament handel oor God se misnoeë met Israel omdat hulle in ander gode ook geglo het. Die Bybel wys vir ons dat die 'duiwels' wat mense vandag aan glo, net soos die vals gode is waarin Israel geglo het.

Duiwels is Afgode.

In 1 Korinthiërs verduidelik Paulus waarom Christene niks met afgod aanbidding, of geloof in sulke dinge, te doen moet hê nie. In Bybeltye het mense geglo dat duiwels, of bose geeste, klein gode was wat aanbid kon word om te keer dat probleme in hulle lewens kom. Hulle het daarom beelde gemaak van duiwels, wat dieselfde as afgode was, en hulle dan aanbid.

Dit verduidelik waarom Paulus woorde soos ' duiwel' en ' afgod' verwissel in sy brief:-"Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie . . . Maar as iemand aan julle sê: Dit is afgodsoffer – moet dit dan nie eet nie . . . " (1 Korinthiërs 10:20,28).

Met ander woorde afgode en duiwels is vir alle praktiese doeleindes dieselfde. Let op hoe Paulus sê dat hulle aan "duiwels (afgode) en nie aan God nie" geoffer het. Die afgode was nie God nie, en omdat daar net een God is, volg dit dat duiwels geen regte krag het nie, en is hulle nie gode nie. Die punt word sterk beklemtoon in 1 Korinthiërs 8:4:- "Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. "

'n Afgod, of 'n duiwel , het geen bestaan nie. Daar is net een ware God, of mag, in die wêreld. Paulus gaan aan in verse 5 en 6:-"Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is--soos daar baie gode en baie here is--(net soos mense vandag glo in baie verskillende soorte duiwels of geeste – een duiwel kan veroorsaak dat jy jou werk verloor, 'n ander dat jou vrou jou verlaat, ens.) tog is daar vir ons (die ware gelowiges) maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, (die goeie en die slegte, soos ons in vorige verwysings gesien het)".

Verdere bewys dat mense in die Nuwe Testament tye geglo het dat duiwels 'gode' was, word gevind in Handelinge 17:16-18; hier sien ons hoe Paulus in Athene gepreek het, 'n stad 'vol afgodsbeelde', m.a.w. hulle het baie verskillende afgode aanbid. Nadat die mense gehoor het hoe Paulus die Evangelie preek, het hulle gesê, "Dit lyk of hy 'n verkondiger is van vreemde gode (duiwels) – omdat hy aan hulle die evangelie van Jesus en die opstanding verkondig het."

Die mense het gedink dat "Jesus" en "die opstanding" nuwe afgode of duiwels was. As 'n mens die res van die hoofstuk lees, sien jy hoe Paulus vir hierdie mense die waarheid leer, en hoe hy verduidelik dat God nie in hulle afgode of tempels woon nie. Onthou, God is die enigste bron van krag. As Hy nie in duiwels, of demone is nie, dan het hierdie demone geen krag nie omdat daar geen ander bron van krag in die heelal is nie. Met ander woorde – hulle bestaan nie.

Ou Testament 'Duiwels' was Afgode.

In die Ou Testament is nog bewyse dat 'duiwels' dieselfde as afgode is. Deuteronomium 28:22-28, 59-61 waarsku dat een straf vir die aanbidding van afgode, kranksinnigheid of geestesversteuring sou wees. Dit verduidelik die verband wat daar is tussen duiwels en geestes siektes in die Nuwe Testament. Maar dit moet verstaan word dat die taak van duiwels verband hou met siekte, en nie die sonde nie. Ons lees nie dat Christus duiwels van afguns, moord ens. uitgedryf het nie. Daar moet ook op gelet word dat die Bybel van mense praat wat 'n duiwel / kwaal het , en nie dat duiwels die siekte veroorsaak nie. Dit is opvallend dat die Griekse vertaling van die Ou Testament (die Septuagint) die woord 'daimonion' vir afgode in Deuteronomium 32:177 en Psalm 106:37 gebruik; dit is ook die woord wat as 'duiwels' in die Nuwe Testament vertaal word. Psalm 106:36-39 beskryf Israel se foute en vergelyk die afgode van Kanaän met duiwels:-"Hulle(Israel) het hulle afgode gedien, en dit het vir hulle 'n strik geword. Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet--die bloed van hul seuns en hul dogters wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het--sodat die land deur bloedskuld ontheilig is. En hulle het onrein geword deur hul werke en gehoereer deur hul dade."

Dit is baie duidelik dat duiwels net 'n ander naam vir afgode is. Die aanbidding van duiwels word deur God beskryf as die aanbidding van "hul werke . . . hul dade" omdat geloof in duiwels die gevolg was van menslike verbeelding; die afgode wat hulle geskep het, was "hulle werke." Mense wat vandag in duiwels glo, glo in dinge wat deur die mens se verbeelding geskep word, eerder as dit wat God vir ons leer. Deuteronomium 32:15-23 beskryf God se woede wanneer Sy mense in duiwels glo. Israel het "die steenrots van sy heil geminag. Hulle het deur vreemde gode sy ywer gewek; deur gruwels Hom geterg. Hulle het aan die duiwels geoffer, wat nie God is, gode wat aan hulle nie bekend was nie . . . En Hy (God) het gesê: Ek wil my aangesig vir hulle verberg . . . want 'n heeltemal verkeerde geslag is hulle, kinders in wie geen trou is nie. Hulle het my ywer gewek deur wat nie – God is, My geterg deur hulle nietige afgode . . . Ek sal onheile op hulle ophoop."

Ons sien dus hoe God duiwels beskryf as afgode en gruwels – dinge wat tevergeefs in geglo word, wat geen bestaan het nie. Om in duiwels te glo dui op 'n gebrek aan geloof in God. Dit is nie maklik om te glo dat God alles in die lewe voorsien nie, beide die goeie en die slegte. Dit is makliker om te dink dat die slegte dinge van iemand anders kom, want sodra ons sê dat dit van God af kom, dan moet ons geloof hê dat God hulle sal wegneem of dat hulle uiteindelik vir ons tot voordeel sal wees.

Nuwe Testament Duiwels

Maar, kan u vra, "Wat van al die gedeeltes in die Nuwe Testament wat so duidelik van duiwels praat?" Ons moet een ding verstaan: die Bybel kan homself nie weerspreek nie, dit is die Woord van die Almagtige God. As ons duidelik vertel word dat dit God is wat ons probleme bring of toelaat, en dat Hy die bron van alle krag is, dan kan die Bybel nie terselfde tyd vir ons sê dat duiwels of geeste – klein gode wat vir God teenstaan – hierdie dinge op ons bring nie.

Dit is veelseggend dat die woord 'duiwels' net vier keer in die Ou Testament voorkom, en elke slag afgod-aanbidding beskryf; dit kom egter baie keer voor in die Nuwe Testament. Die rede hiervoor, stel ons voor, is dat, in die tyd wat die Evangelie geskryf is, dit die taalgebruik was om enige siekte wat nie verstaan kon word nie, aan duiwels toe te skryf. As duiwels regtig bestaan, en verantwoordelik is vir ons siektes en probleme, dan sou ons meer van hulle in die Ou Testament gelees het. Maar ons lees glad nie van hulle, in hierdie konteks, daar nie.

Duiwels in die Nuwe Testament

Om te sê dat duiwels uit iemand gedryf is, is om te sê dat persone genees is van 'n geestelike kwaal, of 'n siekte wat hulle in daardie tyd nie kon verstaan nie. Mense wat in die eerste eeu geleef het, was geneig om alles wat hulle nie kon verstaan nie op denkbeeldige wesens, wat hulle ' duiwels' genoem het, te blameer. Omdat geestelike siektes moeilik was om te verstaan as gevolg van mense se gebrek aan mediese kennis, het hulle van sulkes gepraat as ' van die duiwel besete.'. In Ou Testament tye, het bose geeste verwys na 'n knellende geestestoestand (Rigters 9:23 ; 1 Samuel 16:14 ; 18:10). In Nuwe Testament tye, as mense van bose geeste of van ' die duiwel besete' gepraat het, het hulle gepraat van persone wat ly aan geeste siektes. Die verband tussen duiwel en siekte kan gesien word in die volgende:" En toe dit aand geword het, het hulle baie na Hom (Jesus) gebring, wat van duiwels besete was; en Hy het die geeste met 'n woord uitgedrywe; sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, (In die Ou Testament) toe hy gesê het: Hy het ons krankhede op Hom geneem en ons siektes gedra " (Mattheüs 8:16,17).

Dus is menslike krankhede en siektes dieselfde as om deur ' duiwels' of ' bose geeste' besete te wees.Mense het gedink dat Jesus mal was, en gesê dit moet wees omdat hy 'n duiwel in hom het – "Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig" (Johannes 10:20 ; 7:19,20 ; 8:52). Hulle het dus geglo dat kranksinnigheid veroorsaak word deur duiwels.

Genesing van Siekes.

Wanneer mense wat van "duiwels besete was" genees is, word gesê dat hulle nou 'by hulle verstand' was – Markus 5:15 ; Lukas 8:35. Dit impliseer dat om van "duiwels besete te wees" 'n ander manier was van sê dat iemand geestelik versteurd was, m.a.w. nie by hulle regte verstand nie.

Die wat deur "duiwels besete was" is "gesond gemaak" – Mattheüs. 4:24 ; 12:22 ; 17:18. Weereens met die implikasie dat, om van die duiwel besete te wees, bloot 'n ander manier was om 'n siekte te beskryf. In Lukas 10:9 het Jesus vir sy 70 dissipels gesê om uit te gaan en "siektes gesond" te maak, wat hulle toe gedoen het. Hulle het terug gekeer en gesê, "ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam" (vers 17) Weereens word duiwels en siektes gelyk gestel. Somtyds het die dissipels mense genees in die naam van Jesus en hier het ons 'n voorbeeld daarvan (sien ook Handelinge 3:6 ; 9:34).

Die taal van die Dag

So sien ons dan dat in die Nuwe Testament dit die taalgebruik van daardie dae was om van iemand te praat as "van die duiwel besete" as hulle geestelik siek was, of 'n kwaal gehad het wat niemand kon verstaan nie. In daardie tyd was die Romeinse en Griekse geloof dat duiwels mense besit het, en dus kranksinnigheid veroorsaak het. "Christene" wat glo in die bestaan van duiwels, sê inderwaarheid dat hierdie heidense geloof heeltemal korrek was. Die Bybel is geskryf in taal wat mense kan verstaan. Omdat dit die taal van daardie dae gebruik, beteken dit nie dat die dissipels of Jesus, in duiwels geglo het nie. Ons het in Afrikaans die uitdrukking "van die maan gepla" wanneer ons van iemand praat wat 'n geestelike afwyking het. Maar dit beteken nie dat ons glo dat kranksinnigheid deur die maan veroorsaak word nie.

As hierdie woorde neergeskryf word en oor 2000 jaar gelees word – as Jesus nog nie terug gekom het nie – kan mense dalk dink dat ons geglo het dat die maan malligheid veroorsaak. Maar hulle sou verkeerd wees omdat ons bloot die taal van ons dae gebruik, soos Jesus 2000 jaar gelede gedoen het. Ons praat ook van iemand wat van lotjie getik is, of in die groendakkies behoort. Maar dit beteken nie dat ons dink dat iemand met 'n loot geraps is, of in 'n plek met 'n groen dak moet wees nie. Dit is duidelik dat Jesus Christus nie op die 25ste Desember gebore is nie; tog gebruik die skrywer die term Kersfees wanneer van daardie dag gepraat word, alhoewel ek nie glo dat ons hierdie dag moet gebruik as herdenking van Christus se geboorte nie.

Die name van die dae van die week kom van heidense afgodsaanbidding – bv. "Sondag" beteken "die dag wat opgedra word om die son te aanbid"; "Saterdag" was die dag waarop die planeet Saturnus moes aanbid word; Maandag vir die maan; ens. Deur hierdie name te gebruik beteken nie dat ons deel in die heidense geloof van die mense wat oorspronklik ons huidige taal begin het nie. Toe Daniël se naam verander is na Beltsasar, 'n naam wat verwys na 'n heidense God, het die geïnspireerde Skrif in Daniël 4:19 hom by hierdie nuwe naam genoem, sonder om daarop te wys dat hierdie woord verband hou met vals denke. Ons praat van "die Pous" om 'n persoon te identifiseer, al dink ons dat dit verkeerd is om te glo dat hy werklik 'n 'pous' of vader is (Mattheüs 23:9).

Daar was 'n mite in Esegiël se tyd dat die land Israel verantwoordelik was vir die teenspoed van die mense daarin. Dit was onwaar, en tog redeneer God met Israel, en gebruik Hy die idee wat toe gewild was, " So spreek die Here HERE: Omdat hulle vir julle sê: 'n Menseter is jy en een wat sy eie nasie kinderloos maak-- daarom sal jy (die land) nie meer mense opeet nie . . . , spreek die Here HERE" (Esegiël 36:13,14).

Daar was 'n algemene heidense geloof dat die see 'n groot monster was wat die aarde wou verswelg. Alhoewel dit duidelik onwaar is, gebruik die Bybel dikwels hierdie figuur om sy oorspronklike lesers te help om dit wat voorgesit word te verstaan : Jeremia 5:22 ; Psalm 89:9 ; Habakkuk 3:10. Assiriese mitologie het hierdie opstandige seemonster Rahab genoem; en dit is presies die naam wat aan die Egiptiese seemonster gegee is in Jesaja 51:9.

Aangesien die Bybel deur God geïnspireer is, is dit onmoontlik dat die Bybel bloot die heidense invloed weergee wat bestaan het in die tyd wat dit geskryf is. Dit moet wees dat God bewustelik verwys na kontemporêre gelowe, om te wys dat HY die uiteindelike bron van krag is; dit is HY wat die ' seemonster' beheer, sodat dit SY wil doen. God het dus die fundamentele fout in hierdie mense se gelowe reggestel, naamlik dat daar nie magte aan die werk was in die wêreld wat nie onder God se beheer was nie, en wat derhalwe by implikasie, magte van onheil was.

Maar in hierdie geval gaan die Bybel nie uit sy pad uit om die dwaasheid van so 'n geloof, dat daar 'n seemonster in die see skuil, af te kraak nie. Daar is baie sulke voorbeelde. In Job 26:13 word van 'n slang gepraat, en word waarskynlik verwys na die heidense gelowe van die tyd. Daar word nie probeer om die dwaasheid van hierdie idees te ontbloot nie, en ook nie om 'n wetenskaplike verklaring te gee nie. Die punt word egter gemaak dat GOD hierdie dinge beheer. Die houding van Christus teenoor die geloof in duiwels was identies; sy wonderwerke het duidelik gewys dat die krag van God absoluut en volledig was, nie-teenstaande die bygelowe van die tyd.

Mense wat glo dat die Nuwe Testament verwysings na duiwels 'n bewys is dat sulke wesens werklik bestaan, moet dan ook glo in 'n seemonster en dat weerlig eintlik 'n groot slang is. Hierdie is sekerlik 'n sterk punt wat ons maak; daar moet erkenning gegee word aan die feit dat die Bybel die taal gebruik van die tyd waarin dit geskryf is, sonder om noodwendig die gelowe te aanvaar wat die basis van daardie taalgebruik is.

Ons het gesien dat die gebruik van ons eie taal ook so kan wees. Die Bybel doen dit om die soort basiese waarhede wat ons in Studies 6.1 en 6.2 na gekyk het, te bevestig – dat God almagtig is; dat Hy verantwoordelik vir ons beproewinge is; dat sonde van binne ons kom. Ons moet aanvaar dat die Bybel taal gebruik wat na valse gelowe verwys, maar dat dit gedoen word om te wys dat Yahweh die enigste ware God is, ver verhewe bo die kleinlike gelowe van die mens. Met dit in gedagte, is dit verbasend hoeveel voorbeelde daar in die Nuwe Testament is van die taal van daardie dae wat gebruik word en wat nie reggestel is nie. Hier is 'n paar voorbeelde :-

Die Farisiërs het Jesus daarvan beskuldig dat hy wonderwerke doen deur die krag van 'n vals god met die naam Beëlsebul. Jesus het gesê "En as Ek deur Beëlsebul duiwels uitdryf, deur wie dryf julle seuns hulle uit?" (Mattheüs. 12:27) . 2 Konings 1:2 sê vir ons duidelik dat Beëlsebul 'n vals god van die Filistyne was. Jesus het nie gesê "Nou kyk, 2 Konings 1:2 sê dat Beëlsebul 'n vals god was, so julle aantyging kan nie waar wees nie."

Nee, hy het gepraat asof Beëlsebul bestaan het, want hy wou graag sy boodskap oordra aan die mense vir wie hy gepreek het. Net so het Jesus op dieselfde manier gepraat van duiwels uitdryf – hy het nie aanhou sê "eintlik bestaan die goed nie", hy het bloot die Evangelie in die taal van die dag verkondig.

Handelinge 16:16 is die woorde van Lukas, onder inspirasie: " 'n slavin met 'n waarsêende gees." Hy sê nie "terloops, die meisie het nie regtig die vermoë om die toekoms te voorspel nie …". Net so sê die Evangelie nie dat Jesus "duiwels uitgedryf het, maar wat, terloops, nie regtig bestaan het nie"; dit is net die taal van die tyd vir siektes.

In Lukas 5:32 sê Jesus vir die sondige Jode: "Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie …" Wat hy bedoel het was, "Ek het nie gekom om die wat glo dat hulle regverdig is te roep nie." Jesus het met hulle op hulle eie vlak gepraat, al het hy, tegnies, taal gebruik wat onwaar was. In Lukas 19:20-23 gebruik Jesus die onware woorde van die een talent man in die gelykenis, om met hom te redeneer, maar hy korrigeer nie die verkeerde woorde wat die man gebruik het nie.

Die Bybel praat dikwels van die son wat "opkom" en "ondergaan"; alhowel dit nie wetenskaplik korrek is nie. So ook word siekte van gepraat as "duiwels", maar dit is tegnies "verkeerde" taalgebruik. Handelinge 5:3 vertel hoe Ananias die Heilige Gees bedrieg het – iets wat eintlik onmoontlik is. Tog, wat Ananias gedink het hy doen, word van gepraat as 'n feit, al was dit nie.

Daar is baie Bybelse voorbeelde van taalgebruik wat verstaanbaar was toe dit geskryf is, maar wat vir ons nou vreemd is. Bv. "huid vir huid" in Job 2:4 het verwys na die gebruik in daardie tyd van handeldryf in velle met dieselfde waarde. Of in Deuteronomium. 23:18 word 'n manlike prostituut na verwys as 'n hond (hondeprys). Net so is die taalgebruik van duiwels nog 'n voorbeeld.

Jesus het dikwels mense se verkeerde gelowe op die oog af aanvaar, sonder om hulle dadelik te weerspreek, maar dan die waarheid demonstreer. Ons het gewys dat dit ook God se benadering was toe hy met die heidense gelowe van die Ou Testament gehandel het. Christus se houding teenoor duiwels in Nuwe Testament tye was dieselfde; sy God-gegewe wonderwerke het dit baie duidelik gemaak dat siektes deur God veroorsaak is, nie 'n ander mag nie, siende dat dit God was wat die magtige krag gehad het om hulle te genees.

Paulus het Griekse digters aangehaal, bekend vir die onBybelse snert wat hulle kon voortbring, om mense wat geglo het wat die digters geleer het, te verbyster (Titus 1:12; Handelinge 17:28). Wat ons hier voorstel word saamgevat in Paulus se reaksie toe hy 'n altaar gesien het vir die aanbidding van "'n onbekende God", dit is enige heidense god wat mag bestaan, maar wat die mense van Athene dalk misgekyk het. Eerder as om hulle op die dwaasheid van hulle geloof te wys, vertel hy van die enigste ware God, wat hulle nie geken het nie (Handelinge 17:22,23).

Efesiërs 2:2 praat van "die owerste van die mag van die lug." Dit sinspeel duidelik op die mitologiese begripte van Zoroaster – die tipe van ding wat Paulus se lesers eers geglo het. Paulus sê dat hulle eers gewandel het "volgens die owerste van die mag van die lug." In dieselfde vers definieer hy dit as "die gees (denkwyse, 'n houding) wat . . . werk" in die natuurlike mens. Hulle het eers geglo in die heidense konsep van 'n hemelse gees-owerste; nou maak Paulus die punt dat die mag wat hulle van tevore onder was, hulle eie sondige verstand was. So word die heidense idee na verwys en van gepraat, sonder om dit spesifiek te bestraf, terwyl die waarheid oor die sonde gewys word.

Handelinge 28:3-6 vertel hoe 'n dodelike slang vir Paulus aan sy hand gebyt het. Die omstanders het besluit dat Paulus 'n moordenaar was "wat die goddelike wraak nie laat lewe nie." Hulle het die situasie heeltemal verkeerd verstaan. Paulus het nie in detail verduidelik wat die posisie was nie; hy het 'n wonderwerk gedoen en die slang afgeskud sonder om iets oor te kom.

Die wonderwerke van Jesus het die verkeerde siening van die mense, bv. oor duiwels, blootgestel, sonder om hulle in soveel woorde reg te help. So maak die Jode in Lukas 5:21 twee verkeerde stellings: dat Jesus godslasterlik was, en dat God alleen sondes kon vergewe. Jesus het hulle nie woordeliks reg gehelp nie; hy het eerder 'n wonderwerk gedoen wat die valsheid van hulle stellings bewys het.

Dit is duidelik dat Jesus geglo het dat dade beter is as woorde. Hy het selde vals idees veroordeel, so het hy byvoorbeeld nie die Wet van Moses veroordeel weens die gebrek daarvan om saligheid te bied nie. Maar hy het deur sy dade, byvoorbeeld genesing op die Sabbat gewys wat die Waarheid was. Toe hy verkeerdelik beskuldig is dat hy 'n Samaritaan was, het Jesus dit nie ontken nie (Johannes 8:48,49 vergelyk 4:7-9) al was sy Joodsheid, as die nasaat van Abraham, noodsaaklik vir God se plan vir saligheid (Johannes 4:22).

Selfs toe die Jode die verkeerde gevolgtrekking (moedswillig !) gemaak het dat Jesus "hom met God gelykgestel het" (Johannes 5:18), het hy dit nie uitdruklik ontken nie; hy het eerder getuig dat sy wonderwerke gewys het dat hy 'n man was wat namens God gehandel het, en dus was hy NIE gelyk aan God nie. Net so het Jesus se wonderwerke gewys dat om in duiwels te glo, verkeerd was. Christus se wonderwerk van die genesing van die siek man by die bad, het die dwaasheid gewys van die Joodse mite dat 'n engel op bepaalde tye die water van die bad by Betesda geroer het en sodoende genesende eienskappe daaraan gegee het. Hierdie mite word opgeteken sonder direkte ontkenning van die waarheid daarvan; die optekening van Christus se wonderwerk bring die valsheid daarvan aan die lig (Johannes 5:4).

2 Petrus 2:4 praat van sondige mense wat na Tartarus (dit word in baie weergawes as 'hel' vertaal), gaan. Tartarus was 'n denkbeeldige plek in die onderwêreld; tog help Petrus nie hierdie idee reg nie, maar gebruik hy dit eerder as 'n simbool van algehele vernietiging en straf vir sonde. Christus se gebruik van die woord GEHENNA was soortgelyk (sien Studie 4:9).

Veroorsaak Duiwels regtig Siektes ?

Elkeen wat glo dat duiwels bestaan moet vir hulleself die vraag vra : "Wanneer ek siek is, word dit deur duiwels veroorsaak?" As u dink dat die Nuwe Testament verwysings na duiwels oor geeste gaan wat rond beweeg en kwaad doen, dan moet u "ja" sê. In daardie geval, hoe kan u die feit verklaar dat baie siektes wat die gevolg van duiwels is, nou genees of beheer kan word deur medisyne? Malaria is 'n klassieke voorbeeld. Die meeste mense in Afrika het tot onlangs toe geglo dat malaria veroorsaak word deur duiwels, maar ons weet dat malaria genees kan word deur kinine en ander medisyne. Sê u dan dat as die duiwels die klein geel tabletjies by jou keel sien afgaan, hulle bang word en wegvlieg? Sommige van die siektes wat Jesus genees het, wat beskryf word as die gevolg van duiwel besetenheid, is vallende siekte of klem in die kaak – altwee kan genees word deur medisyne. Jesus het nie in duiwels geglo nie, maar hy het 2000 jaar gelede die taal van die dag gebruik om sy boodskap oor te dra.


  Back
Home
Next