Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

4.9 Hel

Die algemene opvatting van die hel is dat dit 'n plek van straf vir bose ‘onsterflike siele’ is, na die dood, of 'n plek van marteling vir die wat verwerp word met die oordeel. Dit is ons oortuiging dat die Bybel leer dat die hel niks anders as die graf is nie, en dat almal daarheen gaan wanneer hulle sterwe.

Die oorspronklike Hebreeuse woord ‘sheol’, wat as hel vertaal word, beteken 'n bedekte plek. ‘Hel’ is die verengelsde weergawe van ‘sheol’; dus wanneer ons van die ‘hel’ lees, lees ons 'n woord wat nie ten volle vertaal is nie. 'n "Helmet" is letterlik 'n ‘hel-met’, wat beteken 'n bedekking vir die kop. In Bybelse terme is hierdie ‘bedekte plek’, of ‘hel’, die graf. Daar is baie voorbeelde waar die oorspronklike woord ‘sheol’ met die woord ‘graf’ vertaal is. In sommige moderne Bybelvertalings word die woord ‘hel’ skaars gebruik, en word dit vertaal met die woord ‘graf’. 'n Paar voorbeelde van waar die woord ‘sheol’ met ‘graf’ vertaal word sal die algemene opvatting van die hel, as 'n plek van vuur en marteling vir die bose, die nek in slaan:-

  • "Laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom (stil word) in die doderyk (sheol)" (Psalm 31:18) – daar gaan geen geskree wees van pyn en leiding nie.

  • "God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk (sheol)" (Psalm 49:16) – m.a.w. Dawid se siel of liggaam sal opgewek word uit die graf, of ‘hel’.

Die geloof dat die hel 'n plek is van straf vir die bose waarvandaan hulle nie kan ontsnap nie, strook nie met die feit dat 'n geregtige man ook na die hel (die graf) kan gaan en weer daaruit verlos kan word nie. Hosea 13:14 bevestig: "Uit die mag van die doderyk (sheol) sal Ek hulle loskoop, Ek sal hulle verlos van die dood". Hierdie word aangehaal in 1 Korinthiërs 15:55 en toegepas op die opstanding met Christus se wederkoms. Net so word die visie van die tweede opstanding beskryf (sien Studie 5.5), "die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was" (Openbaring 20:13). Let op die parallel wat getrek word tussen die dood en die doderyk (‘sheol’=’hel’) (sien ook Psalm 6:6). Hanna se woorde in 1 Samuel 2:6 is baie duidelik: "Die HERE maak dood en maak lewend (deur op te wek); Hy laat neerdaal in die doderyk (sheol) en laat daaruit opkom".

In die lig van die feit dat ‘die hel’ die graf is, is dit te wagte dat die regverdiges daaruit gered sal word deur opgewek te word tot die ewige lewe. Dit is dus heeltemal moontlik om in ‘die hel’, die graf, in te gaan en om dit later te verlaat deur opgewek te word. Die belangrikste voorbeeld hiervan is Jesus, wie se "siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie" (Handelinge 2:31) omdat hy inderdaad opgewek is. Let op die parallel tussen Christus se ‘siel’ en sy ‘vlees’ of liggaam. Die feit dat sy liggaam "nie in die doderyk verlaat is (nie)" impliseer dat sy liggaam wel daar was, dit is vir die drie dae wat sy liggaam in die graf was. Dat Christus in die hel vertoef het, is bewys genoeg dat dit nie net 'n plek is waarheen die bose en onregverdige gaan nie. Beide goeie en slegte mense gaan na die ‘hel’, dit is die graf. So het ook Jesus "sy graf by die goddelose" gekry (Jesaja 53:9). Parallel hiermee is daar ander voorbeelde van regverdige mense wat na die ‘hel’, die graf, gegaan het. Jakob sê oor sy seun Josef, "ek sal na my seun in die doderyk (sheol) afdaal! So het sy vader hom dan beween" (Genesis 37:35).

Die straf vir die sonde is die dood. Dit is 'n Goddelike beginsel (Romeine 6:23, 8:13; Jakobus 1:15). Ons het vroeër gewys dat die dood 'n toestand van onbewustheid is. Die resultaat van die sonde is totale vernietiging, en nie 'n ewige marteling nie (Mattheüs 21:41; 22:7; Markus 12:9; Jakobus 4:12). Soos byvoorbeeld die mense wat vernietig is deur die vloed (Lukas 17:27,29), en die Israeliete wat gesterf het in die wildernis (1 Korinthiërs 10:10). In beide gevalle sterf die sondaars eerder as om vir ewig gemartel te word. Dit is dus nie waar dat die onregverdige en die bose gestraf word met 'n ewigheid van bewuste marteling en lyding nie.

Ons het ook gesien dat God die sonde nie toereken – en ook nie rekord daarvan hou – indien ons oningelig aangaande Sy Woord is nie (Romeine 5:13). Diegene in hierdie posisie sal gestorwe bly. Diegene wat God se voorskrifte geken het, sal opgewek en geoordeel word met Jesus Christus se wederkoms. Indien onregverdig bevind sal die straf die dood wees, dit is die straf vir die sonde. Dus, na die wederkoms van Christus , sal hulle gestraf word en weer sterf, en gestorwe bly vir ewig.

Hierdie is die "tweede dood" wat na verwys word in Openbaring 2:11; 20:6. Hierdie mense het reeds een keer gesterf, 'n dood van totale onbewustheid. Hulle sal opgewek word en geoordeel word met Christus se wederkoms, en dan gestraf word met die tweede dood, wat net soos die eerste 'n toestand van totale onbewustheid sal wees. Hierdie toestand sal vir ewig duur.

Dit is in hierdie konteks dat die straf vir die sonde ewigdurend sal wees, daar sal geen einde aan die dooies se lot wees nie. Om vir altyd gestorwe te bly is 'n ewigdurende straf. 'n Voorbeeld van hoe die Bybel hierdie tipe uitdrukking gebruik, vind ons in Deuteronomium 11:4. Hierdie gedeelte beskryf God se eenmalige vernietiging van Farao se leër in die Rooi See as 'n vernietiging "tot vandag toe" sodat hierdie leer nooit weer vir Israel 'n las was nie: "en wat Hy gedoen het aan die leër van Egipte, aan sy perde en aan sy strydwaens waaroor Hy die waters van die Skelfsee laat aanstroom het toe hulle julle agtervolg het, sodat die HERE hulle omgebring het tot vandag toe".

Een van die gelykenisse wat handel oor Christus se wederkoms en die oordeel beskryf hoe sy vyande doodgeslaan sal word in sy teenwoordigheid (Lukas 19:27). Dit rym glad nie met die gedagte dat die onregverdiges vir ewig in 'n bewuste toestand sal verkeer waartydens hulle gemartel sal word nie. Dit sou in elk geval 'n onredelike straf wees – ewige marteling vir dade van ±70 jaar. God vind geen plesier in die straf van die onregverdiges nie, daarom is dit te verstane dat Hy hulle nie vir ewig sal straf met fisiese marteling nie (Esegiël 18:23,32; 33:11 vergelyk 2 Petrus 3:9).

Die afvallige Christendom assosieer die ‘hel’ met die idee van vuur en marteling. Dit is in skrille kontras met wat die Bybel leer aangaande die ‘hel’ (die graf). "Soos skape word hulle bestem vir die doderyk (sheol);….hulle gestalte is daar vir die doderyk om te verteer" (Psalm 49:14) impliseer dat die graf 'n plek is van vredevolle vergetelheid. Ten spyte van die feit dat Christus se siel, of liggaam, drie dae lank in die hel was het dit nie verderwing gesien nie (Handelinge 2:31).

Dit sou onmoontlik wees as die ‘hel’ 'n plek van vuur is. Esegiël 32:26-30 skets 'n beeld van die magtige krygers van die volke rondom Israel , wat nou in vrede in hul grafte verkeer : " Maar hulle lê nie by die helde wat geval het (in oorlog) …. wat na die doderyk (sheol) neergedaal het saam met hulle oorlogswapens en wie se swaarde onder hulle hoofde gesit is nie; …….jy sal lê by die wat deur die swaard verslaan is". Hierdie gedeelte verwys na die gebruik om krygsmanne saam met hulle wapens te begrawe en om die kop van die lyk bo op die swaard neer te lê. En tog is hierdie die beskrywing van die ‘hel’ (sheol) – die graf. Hierdie manne wat steeds in die ‘hel’ (dit is hul grafte) lê, korreleer nie met die idee dat die ‘hel’ 'n plek is van ewige vuur nie. Fisiese voorwerpe – soos swaarde – gaan na dieselfde ‘hel’ toe as mense, en dit wys dat die ‘hel’ nie 'n plek is van geestelike marteling nie. So het Petrus ook aan 'n bose man gesê, "Mag jou geld saam met jou vergaan" (Handelinge 8:20).

Die verhaal van Jona se ervaringe weerlê ook hierdie idees. Nadat hy deur die groot vis ingesluk is, het Jona "tot die HERE sy God gebid uit die ingewande van die vis en gesê: Uit my benoudheid het ek die HERE aangeroep, en Hy het my verhoor; uit die binneste van die doderyk (sheol) het ek geroep om hulp" (Jona 2:1,2). Hier word die "binneste van die doderyk" vergelyk met die ingewande van die vis. Die ingewande van die vis was inderdaad 'n ‘bedekte plek’, die fundamentele betekenis van die woord ‘sheol’, wat met doderyk en hel vertaal word. Dit is duidelik nie 'n plek van vuur nie, en Jona het uit die "binneste van die doderyk" gekom toe die vis hom uitgespoeg het. Hierdie was 'n vooruitwysing na die opstanding van Christus uit die doderyk, die hel (die graf) – sien Mattheüs 12:40.

Figuurlike Vuur

Dit is egter so dat die Bybel gereeld die beeld van 'n ewigdurende vuur gebruik om God se afkeur van die sonde te versinnebeeld. Hierdie "vuur" lei tot die totale vernietiging van die sondaar in die graf. Sodom is gestraf met hierdie "ewige vuur" (Judas vers 7), met ander woorde, Sodom is totaal vernietig as gevolg van die boosheid van sy inwoners. Vandag lê daardie stad in puin, bedek met die waters van die Dooie See; op geen manier is daardie stad nog steeds aan die brand nie, wat dit moet wees indien ons die "ewige vuur" letterlik wil interpreteer.

Net so is Jerusalem gedreig met die "ewige vuur" van God se woede as gevolg van die sonde van Israel: "Maar as julle na My nie luister om die sabbatdag te heilig nie en om geen las te dra of deur die poorte van Jerusalem op die sabbatdag in te gaan nie, sal Ek 'n vuur in sy poorte aansteek, wat die paleise van Jerusalem sal verteer en nie uitgeblus sal word nie" (Jeremia 17:27). Dit staan in die profesieë dat Jerusalem die hoofstad van die komende Koninkryk is (Jesaja 2:2-4; Psalm 48:2); dit was nie God se bedoeling dat ons hierdie gedeeltes letterlik moet lees nie. Die groot huise van Jerusalem is afgebrand (2 Konings 25:9), maar daardie vuur het nie vir ewig gebrand nie. Op diesefde wyse het God die land van Edom gestraf met die vuur wat "snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes…. die uil en die kraai woon daarin…..sy paleise word begroei met dorings" (Jesaja 34:9-15). Siende dat diere en plante sou voortbestaan in die land van Edom, moet die verwysing na die ewige vuur verwys na God se afkeur en die totale verwoesting van Edom, eerder as om dit letterlik op te neem.

Die Hebreeuse en Griekse uitdrukkings wat as "vir ewig" vertaal word, beteken streng gesproke " vir die tydperk". Somtyds verwys dit letterlik na die ewigheid, byvoorbeeld die tydperk van die koninkryk, maar nie altyd nie. Jesaja 32:14,15 dien as voorbeeld: "die Heuwel en die Wagtoring dien as spelonke vir ewig….. totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte". Hierdie is 'n manier om die "ewigheid" van die "ewige vuur" te verstaan. Herhaaldelik word God se afkeur van die sonde van Jerusalem en Israel vergelyk met 'n vuur: "My toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek (Jerusalem)…. en dit sal brand en nie uitgeblus word nie" (Jeremia 7:20; ander voorbeelde sluit in Klaagliedere 4:11 en 2 Konings 22:17).

Vuur word ook geassosieer met God se oordeel van sonde, en in besonder met die wederkoms van Christus: "Want kyk, die dag kom, en dit brand soos 'n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, 'n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek" (Maleagi 4:1). Wanneer 'n stoppel of selfs 'n menslike liggaam verbrand, keer dit terug tot stof. Dit is onmoontlik vir enige substansie, en in besonder die menslike liggaam , om letterlik vir ewig te brand.

Die verwysing na die "ewige vuur" kan daarom nie vertolk word as 'n letterlike ewige marteling nie. 'n Vuur kan nie vir ewig duur as daar niks is om te verbrand nie. Daar moet op gelet word dat die "doderyk" (hel) "in die poel van vuur gewerp" word (Openbaring 20:14). Dit impliseer dat die ‘hel’ nie dieselfde as die poel van vuur is nie; dit verteenwoordig totale vernietiging. In die simboliese trant van Openbaring word ons vertel dat die graf totaal vernietig sal word omdat daar geen dood meer sal wees teen die einde van die duisendjarige Koninkryk nie.

Gehenna

In die Nuwe Testament is daar twee Griekse woorde wat as "hel" vertaal word. ‘Hades’ is die ekwivalent van die Hebreeuse ‘sheol’ wat reeds vroeër bespreek is. ‘Gehenna’ was die naam van 'n vullishoop, net buitekant Jerusalem, waar die stad se vullis verbrand was. Sulke vullishope is tipies van baie ontwikkelende stede vandag (bv. ‘Smoky Mountain’ buitekant Manilla in die Filippyne). As 'n naamwoord moes dit eerder onvertaald gelaat gewees het as ‘Gehenna’, en nie as ‘hel’ vertaal word nie. ‘Gehenna’ is die Aramese ekwivalent van die Hebreeuse ‘Ge-ben-Hinnon’. Dit was naby Jerusalem (Josua 15:8) en in die tyd van Christus was dit die stad se vullishoop. Die lyke van kriminele was op die vure gegooi wat altyd daar gebrand het. Op hierdie wyse het Gehenna simbolies geword van totale vernietiging en verwerping.

Weereens moet dit baie duidelik gestel word dat wat ookal op daardie vure gegooi is nie vir ewig bly brand het nie – die lyke het ontbind tot stof. "Want onse God is 'n verterende vuur" (Hebreërs 12:29) en so sal Hy ook wees met die dag van die oordeel; die vuur van Sy afkeur teenoor sonde sal sondaars verteer tot totale vernietiging eerder as om hulle slegs te skroei en te laat oorleef. Tydens God se vorige oordeel van die Israeliete, aan die hand van die Babiloniërs, was Gehenna besaai met die lyke van sondaars onder God se volk (Jeremia 7:32,33).

Op sy meesterlike manier het die Here Jesus al hierdie Ou Testamentiese idees verenig met die gebruik van die term ‘Gehenna’. Hy het dikwels gesê dat die wat verwerp sal word met die oordeel tydens sy wederkoms, na ‘Gehenna’ (d.i. die hel) sou gaan, om "in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie" (Markus 9:43,44).

Gehenna was dus vir die Jode die versinnebeelding van verwerping en vernietiging, en soos reeds uitgewys is die ewige vuur 'n idioom wat God se afkeur van die sonde verteenwoordig asook die ewige vernietiging van sondaars deur die dood. Die verwysing na waar die "wurm nie sterf nie" is deel van hierdie selfde idioom van totale vernietiging – dit is ondenkbaar dat daar letterlik wurms bestaan wat nooit kan doodgaan nie. Die feit dat Gehenna die plek was van vorige straf vir die bose onder God se volk , dui verder op die geskiktheid van Christus se gebruik van die beeld van Gehenna.


  Back
Home
Next