Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

4.3 Die Gees Van Die Mens

Daar bestaan ook ongelukkig 'n wanopvatting oor die verskil tussen die siel en die gees. Hierdie wanopvatting word versterk deur die feit dat in sommige tale en Bybelvertalings, die woorde "siel" en "gees" deur slegs een ekwivalent weergegee word. Die ‘siel' verwys fundamenteel na al die elemente waaruit die mens saamgestel is, maar kan ook verwys na die gees. Daar is egter gewoonlik 'n verskil in betekenis tussen ‘siel’ en ‘gees’ soos dit in die Bybel gebruik word; siel en gees kan geskei word (Hebreërs 4:12).

Die Hebreeuse en Griekse woorde vir ‘gees’ (‘Ruach’ en ‘Pneuma’ onderskeidelik) word ook met die volgende vertaal:- Lewe, Gees, Verstand, Wind, Asem.

Ons het die begrip ‘gees’ in Studie 2.1 bestudeer. God gebruik Sy gees om die natuurlike skepping, insluitend die mens, in stand te hou. Die gees van God binne die mens is dus die lewensgewende krag in die mens. "Soos die liggaam sonder gees dood is" (Jakobus 2:26). "God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus (Adam se neus) die asem (gees) van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel (lewende wese) geword" (Genesis 2:7). Job verwys na "die lewensasem van God" in sy neus (Job 27:3 vergelyk Jesaja 2:22).

Die gees van die lewe in ons word dus aan ons gegee met geboorte, en bly in ons solank as wat ons lewe. Wanneer God se gees van iets lewends onttrek word , dan vergaan dit onmiddellik – die gees is die lewenskrag. Indien God "Sy Gees en Sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer. As daar dan verstand by u is, hoor dit" (Job 34:14-16). Die laaste gedeelte van die aanhaling sinspeel weereens daarop dat die mens dit moeilik vind om sy ware natuur en wese te aanvaar.

Wanneer God, met die dood, Sy gees terugneem, is dit nie net die liggaam wat sterf nie, maar ons totale bewustheid vergaan ook. Dawid se waardering hiervoor het hom gelei om eerder op God te vertrou as in die mens. Psalm 146:3-5 is 'n onoorkomlike Bybelse waarheid teen die aansprake van die humanisme: "Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe (die stof waaruit ons geformeer is); op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die HERE sy God".

Met die dood sal "die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het" (Prediker 12:7). Ons het reeds gewys dat God alomteenwoordig is deur Sy gees. In hierdie konteks word gesê "God is Gees" (Johannes 4:24). Wanneer ons tot sterwe kom ‘blaas ons die laaste asem uit’ omdat God se lewensgewende gees van ons onttrek word. Daardie gees word opgeneem in God se gees wat alomteenwoordig is; met ander woorde met die dood sal "die gees na God terugkeer wat dit gegee het".

Omdat God se gees die hele skepping onderhou, gebeur dieselfde proses met diere tydens die dood. Mens en dier besit dieselfde gees of lewenskrag. "Want die lot van die mensekinders is ook die lot van die veediere: hulle het een en dieselfde lot; soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem (gees), en 'n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie" (Prediker 3:19). Prediker stel dit voorts dat daar geen onderskeibare verskil tussen die gees van die mens en die gees van diere is nie (Prediker 3:20,21) .

Hierdie beskrywing van mens en dier, wat dieselfde gees besit en dieselfde dood sterwe, herinner sterk aan die beskrywing van hoe mens en dier, wat beide die gees (asem) van God gehad het (Genesis 2:7; 7:15) , vernietig is met dieselfde dood tydens die vloed. "En alle vlees wat op die aarde beweeg, het weggesterwe: die voëls en die vee en die wilde diere en al die gedierte wat op die aarde wemel, en al die mense. Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op die droë grond was, het doodgegaan.

So is dan al die lewende wesens verdelg wat op die aarde was, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; hulle is verdelg van die aarde af" (Genesis 7:21-23). Merk ook hoe Psalm 90:3-5 die dood met die vloed vergelyk. Die verhaal in Genesis 7 wys in duidelike terme dat die mens in dieselfde kategorie geplaas word as "alle vlees…….al die gediertes wat op die aarde wemel". Die mens word saam met die diere geklassifiseer omdat mens en dier dieselfde lewensgewende gees besit.


  Back
Home
Next