Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

4.6 Die Oordeel

Wat die Bybel leer van die oordeel is een van die basiese beginsels van die een geloof, wat deeglik verstaan moet word voor die doop (Handelinge 24:25; Hebreërs 6:2). Daar word gereeld in die Bybel verwys na "die dag van oordeel" (bv. 2 Petrus. 2:9; 3:7; 1 Johannes 4:17; Judas 6), 'n tyd wanneer diegene wat tot die ware kennis van God gekom het hul beloning sal ontvang. "Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word" (Romeine 14:10); ons sal "voor die regterstoel van Christus gestel word" (2 Korinthiërs 5:10) sodat ons, in hierdie liggaamlike vorm, die beloning vir ons lewens kan ontvang.

Daniël se visioene aangaande Christus se tweede koms sluit die oordeelstoel, in die vorm van 'n troon, in (Daniël 7:9-14). Die gelykenisse verskaf ook detail omtrent die oordeelsdag. Die gelykenis van die talente vergelyk dit met die terugkeer van 'n meester, wat sy dienaars bymekaar roep en hulle oordeel op grond van hoe goed hulle die geld gebruik het wat hy aan hulle toevertrou het (Mattheüs 25:14-29). Die gelykenis van die vissermanne vergelyk die boodskap van die evangelie met 'n vissersnet, wat alle soorte mense versamel; die manne het toe gaan sit (die oordeelsdag) en die goeie visse van die slegtes geskei (Mattheüs 13:47-49).

Die interpretasie is duidelik: "So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei". Uit dit wat ons sover geleer het, is dit billik om aan te neem dat direk na Christus se wederkoms en die opstanding daar 'n saamtrek sal wees, op 'n spesifieke plek en op 'n spesifieke tyd, van almal wat geroep is deur die Evangelie , wanneer hulle Christus sal ontmoet.

Hier sal rekenskap gegee moet word, en Christus sal bepaal wie aanvaarbaar is en wie verwerp word om die beloning te ontvang om die Koninkryk in te gaan. Dit is slegs op hierdie tyd dat die geregtiges hul beloning sal ontvang.

Hierdie gebeure word opgesom in die gelykenis van die skeiding van die skape en die bokke: "En wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom en al die heilige engele saam met Hom, dan sal Hy op sy heerlike troon sit (die troon van Dawid in Jerusalem, Lukas 1:32,33): en voor Hom sal al die nasies versamel word (dit is mense uit alle nasies, vergelyk Mattheüs 28:19): en Hy sal hulle van mekaar afskei soos die herder die skape van die bokke afskei; en Hy sal die skape aan sy regterhand en die bokke aan sy linkerhand sit. Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af" (Mattheüs 25:31-34).

Die beërwing van die Koninkryk van God en die ontvangs van die beloftes aan Abraham aangaande die Koninkryk is dus die beloning vir die geregtiges. Dit sal egter eers plaasvind na die oordeel, met Christus se wederkoms. Dit is daarom onmoontlik om die beloning van onsterflikheid te ontvang voor Christus se wederkoms.

Daarom kan ons tot geen ander slotsom kom as dat vandat hy sterf tot en met sy opstanding, die gelowige geen bewustelike bestaan het nie, aangesien dit nie moontlik is om in enige ander vorm as die liggaamlike te bestaan nie. Dit is 'n herhaalde Bybelse beginsel dat ons die beloning sal ontvang met Christus se wederkoms, en nie voor dit nie:-

- "En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang" ( 1 Petrus 5:4 vergelyk 1:13).

- "die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk:…….. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee" (2 Timotheüs. 4:1,8).

- Met die Messias se wederkoms in die laaste dae word geskryf, "baie van die wat in die stof van die aarde slaap (vergelyk Genesis 3:19), sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid" (Daniël 12:2).

- Wanneer Christus kom om te oordeel sal "almal wat in die grafte ……uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling" (Johannes 5:25-29).

- "En kyk, Ek (Jesus) kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees" (Openbaring 22:12). Ons gaan dus nie hemel toe om ons loon te ontvang nie – Christus bring dit uit die hemel na ons toe.

Jesus wat ons loon met hom bring impliseer dat dit vir ons in die hemel voorberei is. Hy sal dit vir ons bring na die aarde toe met sy tweede koms.

Ons "erfenis" van die land wat aan Abraham belowe is, is in hierdie sin "in die hemele bewaar .. vir ons wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd" met Christus se wederkoms (1 Petrus 1:4,5).

Waardering van hierdie beginsel stel ons in staat om tot die korrekte interpretasie van 'n veel misverstane gedeelte in Johannes 14:2,3 te kom:" Ek (Jesus) gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het (vergelyk die loon in "die hemele bewaar"), kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is." Jesus sê ook elders dat hy weer sal kom om vir ons ons loon te gee (Openbaring 22:12), en ons het gesien dat dit sal plaasvind by Jesus se oordeelstoel. Hy sal regeer op Dawid se troon in Jerusalem "tot in ewigheid" (Lukas 1:32,33). Jesus sal vir ewig hier op aarde regeer, en waar hy is – in God se Koninkryk hier op aarde – daar sal ons ook wees. Sy belofte om "julle na My toe (te) neem" is dus 'n verwysing na ons aanvaarding, deur hom, met die ooordeelsdag. Die Griekse woorde "na my toe neem" kom ook voor in Mattheüs 1:20 aangaande Josef wat Maria "neem" as sy vrou. Daarom beteken dit nie noodwendig 'n fisiese verplasing/beweging na Christus toe nie.

In die lig van die feit dat ons ons loon sal ontvang met die oordeel en met Christus se wederkoms, volg dit dat die geregtiges en die ongeregtiges na dieselfde plek gaan wanneer hulle sterf, dit is die graf. Daar word geen onderskeid tussen hulle getref met die dood nie. Die volgende is positiewe bewys hiervoor:-

  • Jonatan was geregtig en Saul ongeregtig, tog "in hulle dood (is hulle) nie geskei nie" (2 Samuel 1:23).

  • Saul, Jonatan en Samuel het na dieselfde plek gegaan met hulle dood (1 Sam. 28:15-19).

  • Regverdige Abraham is "by sy volksgenote versamel", dit is sy voorvaders, met sy dood; hulle was afgodsdienaars (Genesis 25:8; Josua 24:2).

  • Die geestelik wyse en dwase is onderworpe aan dieselfde dood (Prediker 2:15,16).

Hierdie is alles in skrille kontras met die aansprake van die populêre ‘Christendom’. Hulle lering, dat die regverdiges onmiddellik hemel toe gaan na die dood, vernietig die noodsaaklikheid van die opstanding en die oordeel. En tog is dit reeds duidelik aangetoon dat hierdie twee gebeurtenisse van kardinale belang is in God se verlossingsplan, en daarom deel uitmaak van die Evangelieboodskap. Die populêre mening stel voor dat die regverdige persoon sterf en onmiddellik beloon word deur na die hemel te gaan en word dan die volgende dag, die volgende maand, die volgende jaar, gevolg deur ander. Hierdie lering is in skrille kontras met wat die Bybel leer. Die Bybel leer dat almal , op dieselfde tyd, gesamentlik beloon sal word:-

  • Die skape word van die bokke geskei met die oordeel, een vir een. Wanneer die oordeel klaar is sal Christus vir die skape, wat aan sy regterhand vergader is, sê: "Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is" (Mattheüs 25:34). Al die skape beërf dus die koninkryk op dieselfde tyd (vergelyk 1 Korinthiërs. 15:52).

- Met "die oes" van Christus met sy wederkoms en oordeel, sal almal wat gearbei het in die Evangelie "saam bly wees" (Johannes 4:35,36 vergelyk Mattheüs 13:39).

- Openbaring 11:18 definieer "die tyd van die dode om geoordeel te word" as die tyd wanneer God "die loon" sal " gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees" – m.a.w. al die gelowiges saam.

  • Hebreërs 11 lys baie van die regverdiges van die Ou Testament. Vers 13 lees: "In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry" wat aan Abraham gemaak is aangaande verlossing deur in God se Koninkryk in te gaan (Hebreërs 11:8-12). Dit volg dus dat hierdie mense nie met hul dood een vir een hemel toe gegaan het om hul beloning te ontvang nie. Die rede hiervoor word vir ons in verse 39,40 gegee: Hulle het "die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie". Die vertraging in die toestaan van hulle beloning is omdat God se plan is om al die gelowiges op dieselfde tyd volmaak te maak. Dit sal plaasvind met die oordeel, net na Christus se wederkoms.


  Back
Home
Next