Bybele Beginsels
Studie 4: God En Die Dood
Die Menslike Natuur | Die Siel | Die Gees Van Die Mens | Dood Is Onbewustheid | Die Opstanding | Die Oordeel | Die Plek Van Beloning: Hemel Of Aarde? | Verantwoordelikheid Teenoor God | Hel | Inset (Die Vagevuur, Spoke En Reïnkarnasie, Met Watter Natuur Sal Ons Opgewek Word?, Die Wegraping) | Vrae

4.4 Dood Is Onbewustheid

Uit dit wat ons sover geleer het aangaande die siel en die gees, volg dit dat terwyl ons dood is, ons in 'n toestand van onbewustheid verkeer. God onthou egter die dade en werk van die wat verantwoordelik is teenoor Hom (Maliagi 3:16; Openbaring 20:12; Hebreërs 6:10). Daar is niks in die Bybel wat daarop dui dat ons enige bewustheid oorhou na die dood nie. Dit is moeilik om te argumenteer met die volgende stellings aangaande hierdie waarheid:-

  • "sy (die mens se) gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne (vertaal as gedagtes ("thoughts" in die KJV) gedaan" (Psalm 146:4).

  • "die dooies weet glad niks nie ….Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie" (Prediker 9:5,6). Daar is geen "kennis of wysheid in die doderyk" nie (Prediker 9:10) – geen denke en daarom geen bewustheid nie.

  • Job stel dit dat met die dood dit sal wees "of ek daar nie was nie" (Job 10:19); hy sien die dood as vergetelheid, onbewustheid en 'n totale verlies aan bestaan. Presies soos voor sy geboorte.

  • Die mens sterf net soos die diere (Prediker 3:18); indien die mens, of gedeelte van hom , die dood iewers oorleef, dan moet die diere ook. Tog rep die Bybel en die wetenskap geen woord hieroor nie.

  • God "weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is. Die mens - soos die gras is sy dae; soos 'n blom van die veld, so bloei hy….. is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie" (Psalm 103:14-16).

Dat die dood waarlik onbewustheid is, selfs vir die geregtiges, word verder gedemonstreer deur herhaaldelike pleidooie van God se dienaars dat Hy hulle lewe verleng, omdat hulle geweet het dat na die dood dit vir hulle onmoontlik sou wees om Hom te prys en te verheerlik, siende dat die dood 'n toestand van onbewustheid is. Hiskia (Jesaja 38:17-19) en Dawid (Psalm 6:4,5; 30:9; 39:13; 115:17) is goeie voorbeelde hiervan. Die dood word herhaaldelik na verwys as 'n slaap of 'n rus, vir beide die geregtiges en die ongeregtiges (Job 3:11,13,17; Daniël 12:13).

Genoeg bewys is nou voorgelê sodat ons onomwonde kan stel dat die populêre idee dat die geregtiges na 'n toestand van saligheid en vergoeding in die hemel gaan, onmiddellik na die dood, eenvoudig nie in die Bybel gevind word nie.

Die ware lering van die dood en die natuur van die mens is egter 'n bron van groot vrede. Na al die traumas en pyn van die menslike lewe, is die graf 'n plek van totale vergetelheid. Vir die wat nie die gehoorsaamheidsvereistes van God geken het nie, sal hierdie vergetelheid vir ewig duur. Nooit weer sal die tragiek van hierdie onvolmaakte lewe bestaan nie, die vergeefse hoop en vrese van die natuurlike menslike verstand sal nie realiseer nie en sal ook niemand bedreig nie.

Met Bybel studie is daar beginsels van waarheid wat ontdek moet word; hoe jammerlik tog dat daar ook dwaling in die mens se geestelike denke bestaan. Dit volg weens 'n gebrek aan aandag op Bybelse lering. Die mens se desperate pogings om die finaliteit van die dood te versag, het hom daartoe gelei om te glo dat hy 'n ‘onsterflike siel’ besit. Sodra aanvaar word dat so 'n onsterflike element in die mens bestaan, word dit nodig om te dink dat daardie element iewers moet heengaan na die dood. Hierdie leun gee aanleiding tot die gedagte dat daar met die dood 'n onderskeid moet wees tussen die lot van die geregtiges en die lot van die ongeregtiges.

Om hierdie gedagte te akkomodeer is daar tot die slotsom gekom dat daar 'n plek is waar die ‘geregtige onsterflike siele’ heengaan, of te wel die hemel, en 'n plek waar die ‘slegte onsterflike siele’ heengaan by name die hel. Ons het reeds aangetoon dat 'n onsterflike siel Bybels onmoontlik is. Die ander valse leringe inherent aan populêre argumente sal nou ontleed word:-

  1. Dat die vergoeding vir ons lewens aan ons gegee word met die dood, deurdat ons ‘onsterflike siele’ na 'n ‘ sekere plek' gestuur word.

  2. Dat die skeiding tussen die goeie en die slegte met die dood plaasvind.

  3. Dat die vergoeding vir die geregtiges is om na die hemel te gaan.

  4. Indien almal 'n ‘onsterflike siel’ besit, dan moet elkeen na of die hemel of die hel gaan.

  5. Dat die ongeregtige ‘siele’ na 'n plek van straf by name die hel sal gaan.

Die doel van ons analise is nie net negatief nie; deur hierdie punte in detail te oorweeg, glo ons dat ons elemente van Bybelse waarheid sal uitwys wat noodsaaklik is om die ware wese van die mens se natuur te verstaan.


  Back
Home
Next