Bybele Beginsels
Studie 7: Die Oorsprong Van Jesus
Ou Testamentiese Profesieë Oor Jesus | Die Maagdelike Geboorte | Christus Se Posisie In God Se Plan | "In Die Begin Was Die Woord" (Johannes 1:1-3) | Inset (Die Historiese Jesus, "Ek Het Uit Die Hemel Neergedaal", Het Jesus Die Aarde Geskape?, "Voordat Abraham Was, Is Ek.", Melgisedek) | Vrae

7.4 "In Die Begin Was Die Woord" (Johannes 1:1-3)

"In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie" (Johannes 1:1-3).

Hierdie verse, as ons hulle reg verstaan, bevestig en brei uit op die gevolgtrekkings wat ons in die vorige afdeling bereik het. Hierdie gedeelte word egter heeltemal misverstaan en die gevolg is dat soveel mense verkeerdelik glo dat Jesus in die hemel bestaan het voor sy geboorte. Die regte interpretasie van hierdie verse hang af van wat die term "die Woord" in die konteks van die verse beteken.

Dit kan nie direk na 'n persoon verwys nie aangesien 'n persoon nie gelyke tyd by God en ook God self kan wees nie. Die Griekse woord "logos" wat hier as "Woord" vertaal word, beteken nie opsig self "Jesus" nie. Dit word meestal as "dit wat gesproke, gesê was, of gesê is, of gesê word" vertaal. Die "Woord" word verwys na as "hy" omdat "logos" 'n manlike vorm in die Grieks is. Dit beteken egter nie dat dit na die man Jesus verwys nie. Die Duitse Bybel noem dit "das Wort" (neutrale vorm). Die Franse Bybel vertaal dit as "la parole" (vroulike vorm) en derhalwe dui die woord nie noodwendig 'n manlike persoon aan nie.

"In die begin"

"Logos" verwys streng gesproke na innerlike gedagtes wat uiterlik gespreek word (in woorde gespreek word). In die begin was God een met Sy woord, Hy was Sy woord. Hy het gespreek volgens Sy wil en Sy doel. Sy doel met die aarde was gesentreer in Jesus wat nog in die toekoms gebore sou word. God se gees bring Sy gedagtes ten uitvoer. Daar is dus 'n noue verbintenis tussen God se woord en Sy gees. Daar moet egter op gelet word dat Jesus as persoon nie "die woord" was nie, maar dat Jesus die een was wat "die woord" van God in die vlees geopenbaar het. Jesus se hoofdoel was om namens sy vader te praat (een van die hooftemas in die evangelie van Johannes). Met Jesus se geboorte het die woord van God dus 'n vleeslike gestalte verkry in Jesus wat sy Vader verteenwoordig het. God se woord kon dus nou "gesien" word in die persoon van Sy enigegebore seun. Hebreërs 1:1 beaam hierdie beginsel: " Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun. "

God het dus met die mens gepraat deur sy Seun. Keer op keer word dit beklemtoon dat Jesus God se woorde gespreek het en op God se bevel wonderwerke gedoen het, ten einde God aan ons te openbaar (Johannes 2:22; 3:34; 7:16; 10:32,38; 14:10,24).

Paulus het Christus se opdrag om die Evangelie oor hom (Jesus) "aan alle nasies" te verkondig, gehoorsaam :- " Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Jesus Christus, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige God, tot gehoorsaamheid van die geloof " (Romeine 16:25,26 vergelyk 1 Korinthiërs 2:7).

Die ewige lewe was net moontlik gemaak vir die mens deur die verlossingswerk van Christus (Johannes 3:16; 6:53); tog was dit van die begin af God se plan, wetende dat Jesus in die toekoms die nodige offer sou wees. Die volle realisering van daardie offer het egter eers na die geboorte en dood van Jesus geskied " in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het, en op die regte tyd sy woord bekend gemaak het deur die prediking wat aan my toevertrou is …." (Titus 1:2,3).Ons het gesien hoe daar van God se profete gepraat word asof hulle altyd bestaan het (Lukas 1:70), in die sin dat "die woord" wat hulle gespreek het by God van die begin af bestaan het (as Sy gedagtes en voornemens).

Die Woord was God.

Ons is nou in 'n posisie om te kyk in watter sin die "woord God was". Ons planne en gedagtes is in wese onsself omdat dit eie aan ons is. "Ek gaan stad toe" is woorde of kommunikasie wat my voorneme verklaar. Soos God dink, so is Hy. Hierdie beginsel geld ook vir die mens (Spreuke 23:7). God se woord (en dus ook Sy denke) is God. Die Bybel maak gereeld hierdie assosiasie tussen God en Sy woord. " Die stem van die HERE laat die woestyn bewe; die HERE laat die woestyn van Kades bewe" (Psalm 29:8), en " Maar julle het na My nie geluister nie, spreek die HERE" (Jeremia 25:7). Wat God eintlik hier sê is "Julle het nie na MY WOORD wat deur die profete gespreek is, geluister nie."

Dawid het die woord van God as sy lamp en lig beskou (Psalm 119:105), en tog sê hy ook: " Want U is my lamp, o HERE! En die HERE laat my duisternis opklaar" (2 Samuel 22:29). Dit wys weereens dat God en Sy woord een is of te wel, God is Sy woord. Dit is dus te verstane dat God se woord as Hyself verpersoonlik word.

God is die waarheid self (Johannes 3:33; 8:26; 1 Johannes 5:10), en dus is God se woord ook waarheid (Johannes 17:17). Op dieselfde wyse identifiseer Jesus homself so nou met sy woorde dat hy sy woord(e) verpersoonlik:

" Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag" (Johannes 12:48). Jesus praat van sy woord asof dit 'n persoon, hyself, is.

God se woord word net so verpersoonlik as God self in Johannes 1:1-3: " In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie."

God het egter alles geskep deur die bevel van Sy woord. Dit is duidelik uit Genesis 1 dat God die Skepper was deur middel van Sy woord en nie deur Christus persoonlik nie. Die woord word beskryf as dit wat geskep het. " Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër. …. want Hy het gespreek, en dit was; Hy het gebied, en dit staan" (Psalm 33:6,9). Selfs vandag nog is dit deur middel van God se woord dat die natuurlike skepping voortbestaan : " wat sy bevel na die aarde stuur, sy woord loop baie vinnig. Hy gee sneeu soos wol; Hy strooi ryp soos as. Hy werp sy ys heen soos stukke--wie kan bestaan voor sy koue? Hy stuur sy woord en laat hulle smelt; Hy laat sy wind waai, die waters loop" (Psalm 147:15-18).


  Back
Home
Next