Bybele Beginsels
Studie 5: Die Koninkryk Van God
Die Koninkryk Gedefinieer | Die Koninkryk Bestaan Nie Nou Al Nie | Die Koninkryk Van God In Die Verlede | Die Koninkryk Van God In Die Toekoms | Die Millennium | Inset (Die Koninkryk Is 'N Letterlike Werklikheid., Opsomming Van Die Geskiedenis Van Israel) | Vrae

Inset 15: Die Koninkryk Is 'N Letterlike Werklikheid.

Die letterlike beskrywings van die Koninkryk wat ons in die Ou Testament profete vind, word dikwels deur teoloë en lede van baie kerke geïgnoreer. Dit word gesien as figuurlike taal wat 'n plek van beloning anders as die aarde beskryf, aangesien hulle glo dat hierdie planeet in 'n vuur van vlamme vernietig gaan word.

In antwoord hierop moet ons begryp dat 'n grondreël van Bybelstudie is dat 'n mens die Bybel letterlik moet opneem, tensy daar baie goeie rede is om 'n geestelike of simboliese interpretasie toe te pas. So byvoorbeeld lig die eerste hoofstuk van Openbaring ons duidelik in dat die visioen hoofsaaklik simbolies is (Openbaring 1:1) en dus moet ons die interpretasie daarvan op so 'n grondslag benader. Dit kan ook gewoonlik heel maklik uit die konteks van 'n versgedeelte gesien word of dit letterlik of simbolies moet wees. So byvoorbeeld is Jesaja 24:20, waar die aarde beskryf word as 'n "dronkaard wat waggel", duidelik figuurlike taal. Hier teenoor is die taal wat gebruik word om die Koninkryk te beskryf maklik om letterlik te verstaan en is daar geen aanduiding dat ons dit simbolies moet interpreteer nie.

Dit blyk dat die mens se ongeloof in die werklikheid van so 'n wonderlike koninkryk-tydperk op die aarde, hom noop om ander teorië te skep wat dit ontken. Die alternatief van 'n geestelike of hemelse koninkryk is vaag en ontbreek in detail en derhalwe is daar min om geloof in te hê. Min geloof word dus vereis of aangemoedig.

As die beskrywings van verlamdes wat weer loop en woestyne wat weer vrugbaar word net simbolies is, moet die vraag "simbolies van wat?" spesifiek en oortuigend beantwoord word. Hierdie skrifgedeeltes beskryf God se Koninkryk . As ons onseker is waarna die simboliek presies verwys, ken ons nie die Evangelie (Goeie Nuus) oor die Koninkryk nie, en kan ons dus nie verwag om 'n deel daarin te hê nie.

Dit behoort verder baie duidelik te wees uit al die bewyse wat tot sover aangevoer is dat God 'n ewige doel met die mens en die aarde het ! Hy sal nie die planeet wat Hy aan Abraham en sy nakomelinge vir ewig belowe het, vernietig nie. Ons behoort dus te verwag dat daar letterlike beskrywings van die Koninkryk, wat op die aarde gevestig sal word, in die Bybel moet wees.

Die volgende vergedeeltes bevestig dit:-"Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het--Hy is God! --wat die aarde geformeer en dit gemaak het--Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word--Ek is die HERE, en daar is geen ander nie" (Jesaja 45:18).

Die skepping van die aarde sal tevergeefs gewees het as God dit vernietig. God se doel is egter om die aarde te vul met onsterflike wesens wat Sy karaktertrekke sal hê.

"Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan" (Prediker 1:4).

"En Hy het hulle (die elemente van die sSonnestelsel) in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het 'n wet gegee wat geeneen oortree nie" (Psalm 148:6).

Die duur van die Millennium (1000 jaar) soos in Openbaring 20:4 opgeteken, moet ook as letterlik aanvaar word ten einde te harmoniseer met verwysings in die profesië van die wese van hierdie periode. Selfs in Openbaring is nie elke getal noodwendig simbolies nie. Die menigte verwysings na "'n derde" in die boek is een voorbeeld. Die millennium word in Hebreërs 4:4-9 as 'n sabbatsdag van rus beskryf. Vir God is 'n dag soos 'n 1000 jaar (2 Petrus 3:8). Na ses "dae" van 'n duisend jaar in God se doel met die aarde, sal 'n Sabbats "dag" van die Millennium aanbreek.

Volgens die Bybel se datum vir die skepping, bring 6000 jaar (met ander woorde 6 "dae") ons tot by 2000 jaar na Christus (met ander woorde die skepping was ongeveer 4000 jaar voor Christus). Dit kan beteken dat die begin van die millennium iewers rondom 2000 NC kan wees. Vir ons almal is die tyd beperk. Ons moet elke oomblik van ons kort lewe gebruik om ons voor te berei vir Jesus se koms.


  Back
Home
Next