Bybele Beginsels
Studie 5: Die Koninkryk Van God
Die Koninkryk Gedefinieer | Die Koninkryk Bestaan Nie Nou Al Nie | Die Koninkryk Van God In Die Verlede | Die Koninkryk Van God In Die Toekoms | Die Millennium | Inset (Die Koninkryk Is 'N Letterlike Werklikheid., Opsomming Van Die Geskiedenis Van Israel) | Vrae

5.4 Die Koninkryk Van God In Die Toekoms

Afdelings 1 en 3 van hierdie studie het heelwat inligting verskaf om aan te toon hoe die Koninkryk van God daar gaan uitsien. Ons het gesien dat aan Abraham belowe is dat mense van oor die hele wêreld deur sy nageslag (Jesus) geseënd sal word.

Romeine 4:13 dui aan dat die hele wêreld beërwe sal word deur diegene wat in "Abraham se nageslag" (m.a.w. "in" Christus) is.Die beeld profesie van Daniël hoofstuk 2 verduidelik hoe Christus sal terugkeer as die klein rots en dat die koninkryk dan geleidelik oor die hele aarde sal versprei (vergelyk Psalm 72:8). Dit beteken dat die Koninkryk van God nie net in Jerusalem of in die land Israel, soos sommige aanvoer, gevestig sal wees nie.

Diegene wat Christus volg in hierdie lewe sal "konings en priesters" wees en op aarde regeer (Openbaring 5:10). Hulle sal oor nedersettings van verskillende grotes en getalle regeer; een sal oor tien stede regeer, 'n ander sal oor vyf stede regeer (Lukas 19:17). Christus sal sy heerskappy oor die aarde met hulle deel (Openbaring 2:27; 2 Timotheüs 2:12).

"Kyk, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg" (Jesaja 32:1).

"Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in. In die plek van u vaders sal u seuns wees; U sal hulle aanstel as vorste in die hele land" (Psalm 45:15,16).

Christus sal vir ewig op Dawid se hervestigde troon regeer (Lukas 1:32,33), met ander woorde hy sal Dawid se plek en posisie van heerskappy, wat in Jerusalem was, hê. Jerusalem sal dus die hoofstad van die toekomstige Koninkryk wees. Dit is in hierdie tyd dat die tempel weer gebou sal word (Esegiël 40-48). Terwyl mense God wêreldwyd sal prys (Maleagi 1:11), sal hierdie tempel die fokus-punt van die wêreld se eerbied en aanbidding wees. Nasies sal "jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die HERE van die leërskare, en om die huttefees te vier" om die tempel in Jerusalem (Sagaria 14:16).

'n Jaarlikse pilgrimsreis na Jerusalem word ook voorspel in Jesaja 2:2-3: "En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê:

Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem."

Hierdie blyk 'n prentjie te wees van die vroeë dae van die Koninkryk, wanneer die Woord van God en die kennis van Christus se heerskappy deur sy naamgenote aan ander versprei word. Hier is 'n beeld van opregte entoesiasme met betrekking tot godsdienstige aanbidding.

Een van die grootste tragedies van ons tyd is dat meeste mense God vir politiese, sosiale, kulturele of emosionele redes "aanbid"; eerder as op grond van 'n ware begrip en kennis van God as hul Vader en Skepper. In die Koninkryk sal daar 'n wêreld-wye entoesiasme wees om die weë van God te leer en te ken; mense sal so gemotiveer wees deur hierdie begeerte dat hulle van oral in die wêreld sal reis na Jerusalem om meer kennis van God op te doen.

In plaas van die verwarring en onregverdigheid wat deur die mense se regssisteme en administrasie van geregtigheid veroorsaak word, sal daar een universieële regskode -"die wet, en die Woord van God"- wees wat deur Christus vanaf Jerusalem uitgevoer sal word. Die algemene gretigheid om die ware kennis van God te bekom sal die natuurlike spanning wat vandag tussen sekere nasies bestaan, verminder.

Die beskrywing van alle "volke wat optrek" na Jerusalem (Jesaja 2:3) is soortgelyk aan die van Jesaja 60:5 waar die Jode almal bymekaar kom saam met die nie-Jode om God in Jerusalem te aanbid. Dit pas perfek in met die Koninkryk profesie van Sagaria 8:20-23: " So sê die HERE van die leërskare: Nog sal volke aankom en die inwoners van baie stede. En die inwoners van die een stad sal gaan na die ander en sê: Kom, laat ons heengaan om die aangesig van die HERE om genade te smeek en die HERE van die leërskare te soek. Ek wil ook gaan! So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek So sê die HERE van die leërskare:

In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van 'n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is. "

Hierdie skep 'n beeld van die Joodse nasie wat die "kop en nie die stert nie" van die nasies gemaak word (Deuteronomium 28:13), as gevolg van hulle berou en gehoorsaamheid. Die Joodse grondslag van God se plan van verlossing sal dan deur almal waardeer word. Die onkunde hieroor in die Christendom sal skielik beëindig word. Mense sal dan entoesiasties hierdie dinge bespreek en aan die Jode sê "ons het gehoor God is met julle". Gesprekke sal oor geestelike dinge, eerder as die leë dinge wat die wêreld se huidige denke oorheers, gaan.

Met hierdie groter toewyding tot goddelikheid is dit geen wonder dat Christus "sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee, en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie; en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie" (Jesaja 2:4).

Die absolute gesag van Christus en die totale regverdigheid van sy oordeel in dispute, sal tot gevolg hê dat nasies gewilliglik hulle wapentuig in landbou implimente sal verander en alle weermag opleiding sal staak. "In sy dae sal die regverdige bloei en volheid van vrede, totdat die maan nie meer is nie " (Psalm 72:7).

Geestelikheid sal dan verhewe word en respek betoon word aan diegene wat God se karaktertrekke van liefde, genade, geregtigheid ens. openbaar. Vergelyk dit met die wêreld se huidige ophemeling van diegene wat trots, selfgeldend en selfsugtig ambisieus is! Die gewillige "smee van pikke uit swaarde" sal deel wees van 'n veel groter landboukundige verandering wat oor die aarde sal plaasvind. As gevolg van Adam se sonde was die grond vervloek om sy ontwil (Genesis 3:17-19). Dit het tot gevolg gehad dat die mens baie moeite moet doen om iets daaruit te produseer.

In die Koninkryk sal

"…. daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die Líbanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde! " (Psalm 72:16), en

"Kyk, die dae kom, spreek die HERE, dat die ploeër die maaier inhaal, en die druiwetrapper die saadsaaier; en dat die berge van mos sal drup, en al die heuwels daarvan oorvloei sal wees " (Amos 9:13).

Die verbeterde vrugbaarheid van die aarde, en die vermindering van die vloek wat op die grond in Eden uitgespreek was, word in bogenoemde verse weerspieël. Die enorme vrugbaarheid van die land sal baie mense betrek. Die Koninkryk profesieë skep die indruk dat mense sal terugkeer na selfonderhoudende landboukundige lewenstyle:- "Maar hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik; want die mond van die HERE van die leërskare het dit gespreek " (Miga 4:4).

Hierdie self-onderhouding sal die misbruike wat in enige stelsel waar arbeid vir geld gebied word, uitskakel. Om 'n leeftyd te werk om ander ryk te maak sal iets van die verlede wees. "En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat 'n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat 'n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is 'n geslag van die wat deur die HERE geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle" (Jesaja 65:21-23).

Jesaja 35:1-7 bevat 'n ongeëwenaarde profesie oor hoe vrugbaar die land sal wees en hoe dit 'n ongekende blydskap sal teweegbring : "Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos 'n narsing; dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die HERE, die sieraad van onse God. Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos. Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos 'n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal 'n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies."

Selfs die natuurlike agressie tussen diere sal verwyder word :

"Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos 'n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die HERE" (Jesaja 65:25).

"Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van 'n basilisk " (Jesaja 11:6-8).

Net soos die vloek wat op die natuurlike skepping geplaas was verlig sal word, net so sal die vloek wat op die mens geplaas was ook verlig word. So praat Openbaring 20:2,3 in simboliese taal van die duiwel (sonde en die effek daarvan), wat "gebind" of beperk word gedurende die millennium (1000 jaar).

Lewensjare sal sodanig toeneem dat iemand wat op die ouderdom van 100 sterf as 'n kind beskou sal word (Jesaja 65:20). Vrouens sal minder lyding tydens geboorte beleef (Jesaja 65:23). "Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos 'n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis" (Jesaja 35:5,6). Dit sal so wees as gevolg van die gawes van die Gees wat weer besit word (vergelyk Hebreërs 6:5).

Dit kan nie oorgenoeg beklemtoon word dat die Koninkryk van God nie gesien moet word as 'n tropiese eiland paradys, waar die gelowiges lê en sonbrand in die heerlikheid van die natuur nie. Die fundmentele doel van die Koninkryk van God is om aan God heerlikheid te gee, totdat die hele aarde vol sal wees van Sy glorie "soos die waters die seebodem bedek" (Habbakuk 2:14). Dit is God se uiteindelike doel : " Maar so waar as Ek leef en die hele aarde van die HERE se heerlikheid vol sal word" (Numeri 14:21).

Glorie vir God beteken dat die inwoners van die aarde Hom by Sy naam sal ken, en Sy karaktertrekke waardeer en naleef. Omdat die wêreld in so 'n toestand sal wees, sal God toesien dat die natuurlike aarde dit ook reflekteer en "Die ootmoediges( daarenteen) sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede" (Psalm 37:11), eerder as om die "gemaklike" lewe te geniet. Die wat "honger en dors na die geregtigheid, sal versadig word" in die Koninkryk van God (Mattheüs 5:6).

Net die idee om die ewige lewe te besit in die Koninkryk word dikwels gebruik om mense te lok om ondersoek in te stel na die ware Evangelie Boodskap. Die besit daarvan in die Koninkryk sal egter 'n bysaak wees omdat die werklike rede hoekom 'n mens in die Koninkryk wil wees, sal wees om God te verheerlik. Soos die tyd verloop nadat ons gedoop is, moet ons waardering hiervan ontwikkel en groei. Selfs net tien jaar van 'n lewe van absolute perfeksie en 'n volmaakte skoon gewete met God, is al die trauma van hierdie lewe werd.

Dat so 'n perfekte lewe in 'n perfekte liggaam op 'n perfekte aarde vir ewig sal aanhou gaan 'n mens se verstand eenvoudig net te bowe. Om in die Koninkryk te wees behoort ons grootste motivering te wees, en dus moet ons wêreldse voordele van materialisme minag. Eerder as om oormatig te dink oor die onmiddellike toekoms, het Jesus die volgende advies gegee: "… soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word….." (Mattheüs 6:30-34). Enige iets waarvoor ons nou kan streef is onvergelykbaar met wat in die Koninkryk ondervind sal word.

Ons moet God se geregtigheid soek, met ander woorde, ons moet probeer om 'n liefde vir God se karakter te ontwikkel. Dit beteken dat ons in God se Koninkryk wil wees omdat geregtigheid daar vereer sal word, omdat ons moreel perfek wil wees; nie net omdat ons persoonlik die dood wil vryspring of 'n gemaklike lewe in die ewigheid wil hê nie. Te dikwels word die hoop van die Evangelie aangebied op 'n wyse wat aanklank vind by die mens se selfsugtige natuur. Ons motivering om in die koninkryk te wees wissel van dag tot dag. Wat ons hier voorstel is egter die ideaal; ons eerste prioriteit is om die Evangelie te leer en ons gehoorsaamheid daaraan te bewys deur gedoop te word uit liefdevolle gehoorsaamheid aan God. Ons waardering en begrip vir die hoop wat God ons bied en die presiese redes hoekom ons in die Koninkryk wil wees, sal groei en ontwikkel na ons doop.


  Back
Home
Next