Bybele Beginsels
Studie 5: Die Koninkryk Van God
Die Koninkryk Gedefinieer | Die Koninkryk Bestaan Nie Nou Al Nie | Die Koninkryk Van God In Die Verlede | Die Koninkryk Van God In Die Toekoms | Die Millennium | Inset (Die Koninkryk Is 'N Letterlike Werklikheid., Opsomming Van Die Geskiedenis Van Israel) | Vrae

5.1 Die Koninkryk Gedefinieer

Ons vorige studies het gewys dat dit God se doel is om met Jesus se wederkoms die gelowiges met die ewige lewe te beloon. Hierdie ewige lewe sal op aarde geniet word; God se herhaaldelike beloftes in hierdie verband skep nooit die indruk dat die gelowiges hemel toe gaan nie. "Die evangelie (goeie nuus) van die Koninkryk van God" (Mattheüs 4:23) wat aan Abraham verkondig was, het gegaan oor God se beloftes van 'n ewige lewe op aarde, verkondig (Galasiërs 3:8). Die "Koninkryk van God" is derhalwe die tydperk na Jesus se wederkoms wanneer hierdie beloftes vervul sal word.

Alhoewel God uiteindelik die Koning van Sy totale skepping is het Hy aan die mens 'n vrye wil gegee om oor die wêreld en sy eie lewe na sy eie wense te heers. Die wêreld is vandag dus die "Koninkryk van die mensdom" (Daniël 4:17).

Met Jesus se wederkoms sal "die koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here word en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid" (Openbaring 11:15). Dan sal God se wense en wil volmaak en openlik in die aarde geskied. So beveel Jesus ons dan om as volg te bid : "laat U koninkryk kom, laat U wil geskied, soos in die hemel (nou) net so ook op die aarde" (Mattheüs 6:10). Dit is om hierdie rede dat die term "Koninkryk van God" gelykstaande is aan die term "koninkryk van die hemele" (Mattheüs 13:11 vergelyk Markus 4:11). Let op dat ons nooit lees van die "Koninkryk in die hemele" nie. Net soos God se wil volkome deur die engele in die hemele gehoorsaam word (Psalm 103:19-21), net so sal dit ook wees in die toekomstige Koninkryk van God, wanneer die aarde net deur geregtige mense wat gelykstaande aan die engele sal wees (Lukas 20:36), bewoon sal word.

Om die Koninkryk van God binne te gaan met Jesus se wederkoms is dus die eindresultaat van ons Christen lewe (Mattheüs 25:34; Handelinge 14:22); en as sulks is dit absoluut noodsaaklik om 'n korrekte begrip daarvan te hê. Filippus se verkondiging van Christus word beskryf as die verkondiging van "die Koninkryk van God en die naam van Jesus Christus" (Handelinge 8:5,12). Skrifgedeelte na skrifgedeelte herinner ons dat die " Koninkryk van God" die hoof tema van Paulus se prediking was (Handelinge 19:8; 20:25; 28:23,31). Dit is dus uiters noodsaaklik dat ons die leerstelling van die Koninkryk van God verstaan aangesien dit die Evangelie boodskap is.

"Ons moet deur baie verdrukkinge in die Koninkryk van God ingaan" (Handelinge 14:22); dit is die lig aan die einde van die tonnel van hierdie lewe en dus die motivering om die opofferings te maak wat die ware Christen lewe vereis.

Nebukadnesar, koning van Babilon, wou die wêreld se toekoms geweet het (sien Daniël hoofstuk 2). Hy het 'n visioen van 'n groot beeld, wat uit verskillende metale gemaak was, gehad. Daniël het die kop van goud as verteenwoordigend van die koning van Babilon self geïnterpreteer (Daniël 2:38). Na hom sou daar 'n paar indrukwekkende ryke in die area rondom Israel verrys en tot 'n val kom. Dit sou eindig met 'n situasie waar die "tone van die voete deels van yster en deels van klei is - 'n gedeelte van die koninkryk sal hard en 'n gedeelte sal bros wees" (Daniël 2:42).

Die huidige balans van mag in die wêreld is verdeel tussen baie nasies, sommige sterk en ander swak. Daniël sien toe 'n klip wat die beeld op sy voete tref, dit vernietig en toe self groei tot 'n groot rots wat die hele aarde vul (Daniël 2:34,35). Hierdie klip verteenwoordig Jesus (Mattheüs 21:42; Handelinge 4:11; Efesiërs 2:20; 1 Petrus 2:4-8). Die "rots" wat hy oor die hele aarde sal skep verteenwoordig die ewige Koninkryk van God, wat Jesus met sy wederkoms sal vestig. Hierdie profesie is opsigself bewys dat die Koninkryk op aarde en nie in die hemel nie, sal wees.

Dat die Koninkryk eers ten volle in realiteit gevestig sal word met Jesus se wederkoms is ook die tema van baie ander skrifgedeeltes. Paulus praat van Jesus wat die lewende en die dode sal oordeel "by sy verskying en sy Koninkryk " (2 Timotheüs 4:1).

Miga 4:1 bou voort op Daniël se idee van God se Koninkryk as 'n groot rots "en aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vassstaan op die top van die berge". Daar volg dan 'n beskrywing van hoe hierdie Koninkryk op aarde sal wees (Miga 4:1-4). God sal vir Jesus die troon van Dawid in Jerusalem gee; "en Hy sal Koning wees . . . tot in ewigheid, en van sy Koninkryk sal daar geen einde wees nie" (Lukas 1:33). Dit noodsaak dat daar 'n sekere punt moet wees wanneer Jesus begin om vanaf Dawid se troon te heers en sy Koninkryk dus 'n aanvang neem. Dit sal met Jesus se wederkoms wees. "Aan sy Koninkryk sal daar geen einde wees nie" sluit aan by Daniël 2:44 : "maar in die dae van die konings sal die God van die hemel 'n Koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie . . . "

Openbaring 11:15 gebruik dieselfde taal om te beskryf hoe, met die tweede koms, "die koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here word en van Sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid." Daar moet dus 'n spesifieke tyd wees wanneer Jesus se heerskappy en Koninkryk op aarde sal begin; dit sal met Sy wederkoms wees.


  Back
Home
Next