Bybele Beginsels
Studie 1: God
God Se Bestaan | God Se Persoonlikheid | God Se Naam En Karakter | Die Engele | Inset ("God Is Gees" (Johannes 4:24), Die Gebruik Van God Se Naam., God Manifestasie.) | Vrae

1.4 Die Engele

Alles wat ons tot dusver in hierdie studie beskou het, lei ons nou na 'n oorweging van die Engele:

  • fisiese, persoonlike wesens

  • wat God se Naam dra

  • kanale waardeur God se Gees werk om Sy wil uit te voer volgens Sy karakter en doel en Hom daardeur openbaar.

Ons het in Studie 1.3 genoem dat een van die algemeenste Hebreeuse woorde wat as "God" vertaal word, Elohim is,'n woord wat eintlik "magtiges" beteken .Hierdie "magtiges", wat God se Naam dra, kan in effek " God " genoem word as gevolg van hulle noue verband met Hom. Hierdie wesens is die Engele.

In Genesis 1, waar ons lees van die skepping van die wêreld, sien ons dat God sekere opdragte uitgespreek het ,"en dit was so". Dit was die Engele wat hierdie opdragte uitgevoer het :"Loof die HERE, Sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord!" (Psalm 103:20).

Dit is dus redelik om te aanvaar dat "God" se skeppingswerk eintlik deur die Engele gedoen is. Job 38:4-7 sinspeel ook hierop. Dis nou 'n goeie tyd om die gebeure van die Skepping, soos aangeteken in Genesis hoofstuk1,op te som,:

Dag 1 "En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig" (v.3)

Dag 2 "En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees (lug) tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters (op die aarde) en waters (in die wolke)….. en dit was so"(v.6,7)

Dag 3 "En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel (om oseane te vorm), sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so" (v.9)

Dag 4 "En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel ….en dit was so" (v.14,15)

Dag 5 "En God het gesê : Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg ….. en God het al die lewende wesens geskape" (v.20,21) - m.a.w. "dit was so"

Dag 6 "En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring…… vee, kruipende diere en wilde diere…… en dit was so" (v.24).

Die mens is ook geskape op die sesde dag "En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis"(Genesis 1:26). Ons het kommentaar oor hierdie vers in Studie 1.2 gemaak . Vir nou wil ons net noem dat "God" hier nie net na God Homself in persoon verwys nie - "Laat ONS die mense maak " beteken dat hier na meer as een persoon verwys word. Die Hebreeuse woord wat hier as "God" vertaal word, is Elohim, wat "magtiges" beteken, en dit verwys na die Engele.

Die feit dat die Engele ons in hulle beeld geskape het , beteken dat hulle dieselfde liggaamlike voorkoms as ons het . Hulle is derhalwe werklike, tasbare, lewende wesens, wat dieselfde natuur as God het.

God se Natuur (Goddelike natuur)

  • God kan nie sondig nie en is volmaak (Romeine 9:14; 6:23 vgl. Psalm 90:2; Mattheüs 5:48; Jakobus 1:13)

  • Kan nie sterf nie, d.w.s. onsterflik (1 Timotheüs 6:16)

  • Is vol krag en energie (Jesaja 40:28).

  • Dit is hierdie natuur of wese van God en die Engele, wat aan Jesus gegee is na sy wederopstanding (Handelinge.13:34; Openbaring 1:18; Hebreërs 1:3). Dit is hierdie natuur wat aan ons belowe is (Lukas 20:35.36; 2 Petrus1:4; Jesaja 40:28 vgl.v 31).

Menslike Natuur.

  • Ons word versoek en kan sondig (Jakobus1:13 -15) deur 'n verdorwe verstand (die denke van die vlees ) (Jeremia17:9; Markus 7:21-23)

  • Is verdoem tot die dood d.w.s. dit is sterflik (Romeine 5:12, 17; 1 Korinthiërs 15:22)

  • Het slegs beperkte krag, fisies (Jesaja 40:30) en geestelik (Jeremia10:23).

Dit is die natuur wat alle mense, goed en sleg, nou besit. Die einde van hierdie natuur is die dood (Romeine 6:23). Dit was die natuur wat Jesus gehad het gedurende sy sterflike lewe (Hebreërs 2:14 - 18; Romeine 8:3; Johannes 2:25; Markus 10:18). Dit is jammer dat die Afrikaanse woord "natuur" effens vaag is : ons kan dit gebruik in 'n sin soos "Jan het 'n vrygewige natuur - dit is nie in sy natuur om selfsugtig te wees nie". Dit is nie hoe ons die woord "natuur" in hierdie studies gebruik nie.

DIE VERSKYNING VAN ENGELE

Omdat die Engele dieselfde natuur as God het, moet hulle sondeloos, en derhalwe onsterflik wees, aangesien sonde die dood bring (Romeine 6 : 23). Hulle moet 'n werklike, fisiese bestaan hê. Dit is die rede waarom Engele soos gewone mense gelyk het wanneer hulle op aarde verskyn het.

Engele het na Abraham gekom om God se woorde aan hom mee te deel; hulle word beskryf as "drie manne", vir wie Abraham aanvanklik soos mense behandel het, omdat hulle so voorgekom het : "Laat hulle tog 'n bietjie water bring, en was u voete, en lê en rus onder die boom" (Genesis 18:4).

Twee van hierdie Engele is toe na Lot toe in die stad Sodom. Weereens is hulle as mense aangesien deur sowel Lot as die inwoners van Sodom. "Die twee engele het in die aand in Sodom aangekom", en Lot het hulle genooi om die nag by hom deur te bring. Maar die mense van Sodom het na sy huis gekom en op 'n dreigende manier gevra : "Waar is die manne wat vannag na jou gekom het?"

Lot het gepleit, "Moet niks aan hierdie manne doen nie." Die geïnspireerde woord noem hulle ook "manne" : "die manne (engele) het hulle hand uitgesteek" en vir Lot gered; "en die manne het vir Lot gesê ..... die HERE het ons gestuur om dit (Sodom) te verwoes" (Genesis 19:1,5,8,10,12,13).

Die Nuwe Testament verwysing na hierdie insidente bevestig dat Engele die gestalte van mense het : "Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige (bv. Abraham en Lot), sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg" (Hebreërs 13:2).

  • Jakob het heel nag met 'n man geworstel (Genesis 32:24), en ons word later vertel dat dit 'n Engel was (Hosea 12:5).

  • Twee manne in blink klere was teenwoordig met die opstanding (Lukas 24:4) en hemelvaart (Handelinge 1:10) van Jesus. Dit is duidelik dat hulle Engele was.

ENGELE SONDIG NIE

Omdat die Engele dieselfde natuur as God het, kan hulle nie sterf nie. En omdat sonde die dood bring, volg dit dat hulle nie kan sondig nie.

Die oorspronklike Griekse en Hebreeuse woorde wat as "engel" vertaal word, beteken "boodskapper"; die engele is die boodskappers of dienaars van God, gehoorsaam aan Hom. Dit is dus onmoontlik om aan hulle te dink as sondige wesens. Die Griekse woord "aggelos" wat as "engele" vertaal word, word ook vertaal as "boodskappers" wanneer van menslike wesens gepraat word - bv. Johannes die doper (Mattheüs 11:10) en sy boodskappers (Lukas 7:24); die boodskappers van Jesus (Lukas 9:52) en die spioene na Jerigo (Jakobus 2:25). Dit is natuurlik moontlik dat "engele", in die sin van menslike boodskappers, kan sondig.

Die volgende skrifgedeeltes wys duidelik dat al die Engele (en nie net sommige van hulle nie!) van nature gehoorsaam is aan God, en dus nie kan sondig nie:

"Die HERE het Sy troon in die hemel gevestig, en Sy koninkryk heers oor alles (m.a.w. daar kan geen opstanding teen God in die hemel wees nie). Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen!" (Psalm 103:19-21).

"Loof Hom, al sy engele, loof Hom, al sy leërskare" (Psalm 148:2).

"Die engele…..is hulle nie almal dienende geeste wat vir diens uitgestuur word ter wille van die (die gelowiges) wat die saligheid sal beërwe nie?"(Hebreërs 1:13,14).

Die herhaling van die woorde "al" en "almal" wys dat die Engele nie in twee groepe verdeel kan word - die een goed en die ander sondig - nie. 'n Duidelike begrip van die natuur van die Engele is belangrik, omdat die beloning van die gelowige is om deel te hê aan daardie natuur : "Die wat waardig geag word .... trou nie... en kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele" (Lukas 20:35,36).

Dit is 'n uiters belangrike punt om te verstaan. Engele kan nie sterf nie. As Engele kon sondig, dan sal dié wat waardig gevind en beloon word wanneer Christus terugkom, ook nog kan sondig. Aangesien sonde die dood bring (Romeine 6:23), sal hulle dus nie die ewige lewe kan hê as daar die moontlikheid is dat hulle kan sondig nie.

Om dan te sê dat Engele kan sondig, maak God se belofte van die ewige lewe sinneloos, siende dat ons beloning is om deel te hê aan die Engele se natuur. Die verwysing na "die engele" (Lukas 20:35,36) wys dat Engele nie in kategorieë van goed en kwaad verdeel kan word nie; daar is net een klas of kategorie van Engele.

As Engele kon sondig, dan kan God nie regverdig optree in ons lewens nie, siende dat Hy verklaar het dat Hy deur Sy "engele" werk (Psalm 103:19-21).

Dat hulle ongehoorsaam aan Hom kan wees is dus 'n onmoontlikheid. Die Christen moet elke dag bid dat God se Koninkryk aarde toe moet kom, sodat Sy wil hier gedoen word soos dit in die hemel geskied (Mattheüs 6:10). As God se Engele moes meeding met sondige Engele in die hemel, dan kon Sy wil nie ten volle daar gedoen word nie, en derhalwe sou dieselfde situasie in God se toekomstige Koninkryk heers.Om vir ewig te leef in 'n wêreld wat bestaan uit 'n stryd tussen die sonde en gehoorsaamheid, is skaars 'n bemoedigende vooruitsig, maar dit is natuurlik nie die geval nie.

ENGELE EN GELOWIGES

Daar is goeie rede om te glo dat elke ware gelowige Engele het - moontlik een besondere een - wat hulle in hulle lewens help:

  • "Die Engel van die HERE trek 'n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit" (Psalm 34:8).

  • Die vroeë Christene het duidelik geglo dat Petrus 'n beskermengel gehad het (Handelinge. 12:14,15).

  • Die Israeliete is, nadat hulle deur die Rooi See gegaan het, deur 'n Engel in die wildernis na die beloofde land gelei. Die tog deur die Rooi See verteenwoordig die doop in water (1 Korinthiërs.10:1,2), en so is dit dan nie onredelik om te aanvaar dat ons ook deur 'n Engel gelei en gehelp word in ons reis deur die wildernis van die lewe na die beloofde land van God se Koninkryk nie.

As Engele kan sondig, dan word sulke beloftes van Engele wat ons lewe beïnvloed en oor ons waak 'n vloek in plaas van 'n seën.

Ons het dus gesien dat Engele wesens is ….

  • met God se ewige natuur en liggaamlike voorkoms

  • wat nie kan sondig nie

  • wat God se bevele altyd uitvoer

  • en wat die kanale is waardeur God se gees (Sy krag) praat en werk (Psalm 104:4).

Maar? Baie "Christen" kerke het die idee dat Engele kan sondig, en dat daar nou sondige Engele bestaan wat verantwoorderlik is vir sonde en probleme op aarde. Ons sal hierdie foutiewe siening meer volledig in Studie 6 bespreek. Vir nou wil ons die volgende punte maak:

  • Daar kan geen sondige wesens in die Hemel wees nie, aangesien God "te rein is van oë om die kwaad aan te sien" (Habakuk. 1:13).

Net so verklaar Psalm 5:5,6: "Die kwaaddoener sal by U nie vertoef nie. Die onsinniges sal voor U oë nie standhou nie." In die Hemel, God se woonplek, bestaan geen kwaad nie. Die idee dat daar 'n opstand in die hemel teen God kon wees deur sondige Engele, is heeltemal teenstrydig met die indruk wat 'n mens van hierdie verse kry.

  • Die Griekse woord wat as "Engel" vertaal word, beteken "boodskapper" en kan verwys na mense, soos ons gewys het. Sulke menslike "boodskappers" kan natuurlik sondig.

  • Dat daar goddelose,sondige hemelwesens is waarop die blaam vir al die negatiewe aspekte van die lewe geplaas kan word, is 'n algemene geloof van die heidendom.

  • Daar is bitter min Skrifgedeeltes wat misverstaan kan word om die gedagte van sondige Engele te steun. Hulle moet egter in konteks gelees word. Logiese verduidelikings, gegrond op die Skrif en in harmonie met die fundementele Bybelleerstellings soos hierbo uiteengesit, kan vir hierdie verse gegee word.


  Back
Home
Next