Inset 27: "Wat In Die Gestalte Van God Was"
"Jesus . . . wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem" (Filippense 2:5-11).
Dit word voorgegee dat hierdie verse beteken dat Jesus God was , maar dat hy met sy geboorte 'n mens geword het. As dit waar is, dan moet elke punt wat in Studies 7 en 8 gemaak is verwerp word. Ons stel dit aan die leser, dat een vers nie toegelaat kan word om algemene Bybelleer te weerspreek nie. Hierdie is feitlik die enigste skrifgedeelte wat gebruik kan word om verkeerdelik te redeneer dat Jesus homself verplaas het vanaf sy posisie as God in die hemel na 'n baba in Maria se baarmoeder. Die verduidelikings wat volg verklaar wat hierdie gedeelte regtig beteken.
Daar is 'n aantal uitdrukkings in hierdie Skrifgedeelte wat die idee van 'n drie-eenheid heeltemal weerspreek:
"God het hom ook uitermate verhoog (dit is vir Jesus) . . . en 'n naam gegee wat bo elke naam is" (v.9) wys dat Jesus nie homself verhewe het nie - God het dit gedoen. Dit volg dus dat hy nie in 'n verhewe posisie was voor God dit vir hom by sy opstanding gegee het nie.
Die hele proses van Christus se verootmoediging en sy latere verheerliking deur God was "tot heerlikheid van God die Vader" (v.11). God die Vader is dus nie gelyk aan Jesus nie.
Daar moet baie noukeurig na die konteks van hierdie Skrifgedeelte gekyk word. Paulus begin nie net uit die bloute uit van Jesus praat nie. Hy verwys na Jesus se denke, na sy gesindheid, in Filippense 1:8. Dan begin Paulus in Filippense 1:27 praat van die belangrikheid van ons denke, ons gesindheid. Dit word uitgebrei in die begin verse van hoofstuk 2: "deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin . . . Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was" (Filippense 2:2-5). Paulus praat dus van die belangrikheid daarvan om 'n gesindheid soos die van Jesus te hê, wat toegewy is aan nederige diens aan ander. Die verse wat volg is derhalwe 'n kommentaar op die nederige gesindheid wat Jesus gehad het, dit praat nie van enige verandering van natuur nie.
Jesus was "in die gestalte van God". Ons het in Studie 8.3 gewys dat Jesus van menslike natuur was, en hierdie woorde kan dus nie beteken dat Christus 'n Goddelike natuur gehad het nie. Dit kan net hier genoem word dat heelwat moderne vertalings van die Bybel neig om te parafraseer, eerder as om die presiese betekenis van die oorspronklike Grieks weer te gee. Die resultaat is 'n vertaling wat "maklik lees", terwyl die ware betekenis verlore gaan. Filippense 2:5-8 is 'n klassieke voorbeeld hiervan.
Dat "gestalte" (Grieks ‘MORPHE’) nie na essensiële natuur kan verwys nie, word bewys deur Filippense 2:7 wat praat van Christus wat "die gestalte van 'n dienskneg" aanneem. Hy het die gestalte van God gehad, maar hy het die gestalte van 'n dienskneg aangeneem. Die wesenlike natuur van 'n dienskneg is net soos die van enige ander mens. In harmonie met die konteks kan ons dit so vertolk : alhoewel Jesus volmaak was en heeltemal soos God gedink het, was hy gewillig om die gedrag, of houding, van 'n dienskneg aan te neem. 'n Paar verse later spoor Paulus ons aan om "gelykvormig aan sy (Christus se) dood te word" (Filippense 3:10). Ons moet die "morphe", die gestalte van Christus hê wat hy getoon het. Dit kan nie beteken dat ons moet deel in die natuur wat hy toe gehad het nie, omdat ons alreeds menslike natuur het. Ons hoef nie onsself te verander om menslike natuur te hê nie, maar ons moet ons manier van dink verander, sodat ons die "morphe" of gesindheid kan hê wat Christus gehad het.
Die Griekse woord "morphe" beteken 'n beeld, indruk of ooreenkoms. Die Bybel praat van "mense wat 'n gedaante ("morphe") van Godsaligheid het" (2 Timotheüs 3:5). Galasiërs 4:19 praat van "Christus wat in julle 'n gestalte verkry". Omdat hy 'n volmaakte karakter gehad het, 'n volmaakte Goddelike manier van dink, was Jesus "in die gestalte van God". Om hierdie rede "het (hy) dit geen roof geag" om te dink of te weet dat in hierdie sin hy een met God was nie. Die feit dat "hy dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie" bewys die teorie dat Jesus God was, totaal verkeerd.
Jesus het dit nooit 'n gedagte gegee om gelyk aan God te wees nie; hy het geweet dat hy aan God onderdanig was, en nooit, ooit, gelyk aan Hom nie.
Christus "het homself ontledig", verwys na die voorspelling van sy kruisiging in Jesaja 53:12 : "omdat hy sy siel uitgestort het in die dood." Hy het "die gestalte (gesindheid) van 'n dienskneg" aangeneem deur die houding wat hy teenoor sy volgelinge openbaar het (Johannes 13:14), wat tot die hoogste demonstreer is deur sy dood aan die kruis (Mattheüs 20:28). Jesaja 52:14 het Christus se lyding aan die kruis voorspel: "so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos die van 'n mensekind nie". Hy het homself toenemend nederig gemaak, selfs tot die dood toe, en dit was 'n proses wat deur sy hele lewe plaasgevind het, nie net by sy geboorte nie. Ons het gewys dat die konteks van hierdie gedeelte verband hou met Christus se gesindheid, sy sienswyse, die nederigheid wat aan ons voorgehou word as 'n voorbeeld om te volg. Hierdie verse praat dus van Jesus se lewe op aarde, in dieselfde menslike natuur as ons, en hoe hy homself nederig gemaak het, ten spyte van 'n verstand wat algeheel ingestel was met die van God.
As Christus in natuur God was, en dit toe agtergelaat het om menslike natuur aan te neem, soos trinitariërs hierdie gedeelte probeer vertolk, kon hy nie "heeltemal God" wees terwyl hy op aarde was nie. Tog glo trinitariërs dat hy dit was. Al hierdie feite wys op die weersprekings wat geskep word in hierdie mensgemaakte dogma van die drie-eenheid.
Laastens, net iets oor die uitdrukking "wat in die gestalte van God was". Die Griekse woord wat vertaal word "wat . . . was", beteken nie "wat oorspronklik, van ewigheid was" nie. Handelinge 7:55 praat van Stefanus wat "vol was van die Heilige Gees". Hy was op daardie stadium vol van die Heilige Gees, en was so vir 'n tyd tevore; maar hy was nie altyd vol daarvan nie. Ander voorbeelde kan gevind word in Lukas 16:23; Handelinge 2:30; Galasiërs 2:14. Christus, "wat in die gestalte van God was", beteken net dat hy in God se gestalte (geestelik) was; dit sê nie dat hy in daardie gestalte van ewigheid af was nie.
|