Bybele Beginsels
Studie 3: Die Beloftes Van God.
Die Beloftes Van God : Inleiding | Die Belofte In Eden | Die Belofte Aan Noag | Die Belofte Aan Abraham | Die Belofte Aan Dawid | Inset (Die Vernietiging Van Die Hemele En Die Aarde, Die Aansprake Van "Britse Israelisme") | Vrae

3.5 Die Belofte Aan Dawid

Dawid, soos Abraham en baie ander aan wie God beloftes gemaak het, het nie 'n maklike lewe gehad nie. Hy het groot geword as die jongste seun in 'n groot familie wat in daardie tyd (1000 )V.C) beteken het dat hy skaapwagter was en ook boodskappe moes aandra vir sy baasspelerige broers (1 Samuel 17:15-17). Dit was in hierdie tydperk dat hy 'n vlak van geloof geleer het wat min mense sedertdien kon bereik.

Die dag het gekom toe Israel die grootste uitdaging van hulle aggressiewe bure, die Filistyne, in die gesig gestaar het; hulle is uitgedaag om een van hulle manne teen die reus, Goliat, die Filistynse kampioen, te laat veg. Die een wat wen sou oor die verloorders heers. Met God se hulp het Dawid vir Goliat verslaan deur 'n slinger te gebruik, en dit het hom selfs groter gewildheid as hulle koning (Saul) gebring. "Die liefdes-ywer (jaloesie) is hard soos die doderyk" (Hooglied 8:6), is woorde wat bewaarheid is deur Saul se vervolging van Dawid vir die daaropvolgende paar jaar, toe hy hom meedoënloos in die woestyn van suidelike Israel gejaag het.

Dawid het uiteindelik koning geword, en om sy waardering vir God se liefde teenoor hom gedurende die moeilike jare van sy lewe te wys, het hy besluit om vir God 'n tempel te bou. God se antwoord was dat Dawid se seun, Salomo, die tempel sou bou en dat God vir Dawid 'n huis wou bou (2 Samuel 7:4-13). Toe volg 'n breedvoerige belofte wat 'n herhaling is van baie van wat aan Abraham gesê is, en wat ook 'n paar ander besonderhede bevat het:-"As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hy sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. Ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir My 'n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met 'n menslike roede en met slae van mensekinders. Maar my goedertierenheid sal van hom nie wyk nie, soos Ek dit onttrek het aan Saul wat Ek voor jou aangesig verwyder het. En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid" (2 Samuel 7:12-16).

Van ons vorige studies sou ons verwag dat die "nakomeling", of saad, Jesus moet wees. Sy beskrywing as die seun van God (2 Samuel 7:14) bevestig dit, soos baie ander verwysings in ander dele van die Bybel:-

  • "Ek is . . . die geslag van Dawid" het Jesus gesê (Openbaring 22:16).

  • "(Jesus) wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid" (Romeine 1:3).

  • "Uit die nageslag van hierdie man (Dawid) het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek" (Handelinge 13:23).

  • Die engel Gabriël het vir die maagd Maria die volgende oor haar seun, Jesus, gesê:- "die Here God sal aan Hom die troon van sy vader (voorouer) Dawid gee . . . en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie" (Lukas 1:32,33). Hier verwys die belofte van Dawid se nageslag, in 2 Samuel 7:13, na Jesus.

Met die nakomeling, of saad, nou definitief geïdentifiseer as Jesus, word 'n aantal besonderhede meer betekenisvol:

1. Die Saad (nakomeling)

"Jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom . . . ek sal vir hom 'n vader wees, en hy sal vir my 'n seun wees." (2 Samuel 7:12,14).

"Van die vrug van jou liggaam sal Ek laat sit op jou troon" (Psalm 132:10,11).Jesus, die saad, sou 'n letterlike, liggaamlike nakomeling van Dawid wees, maar sou tog vir God as sy Vader hê. Dit kon slegs gedoen word deur die maagdelike geboorte soos beskryf in die Nuwe Testament; Jesus se ma was Maria, 'n nakomeling van Dawid (Lukas 1:32), maar hy het nie 'n menslike pa gehad nie. God het op 'n wonderbaarlike wyse, deur die Heilige Gees, veroorsaak dat Maria swanger word met Jesus, en so het die Engel gesê, "Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word" (Lukas 1:35). Die "maagdelike geboorte" was die enigste manier waarop hierdie belofte aan Dawid behoorlik vervul kon word.

2. Die Huis

"Hy sal vir my Naam 'n huis bou" (2 Samuel 7:13) wys dat Jesus 'n tempel sal bou vir God – beide letterlik en figuurlik. Esegiël hoofstukke 40-48 beskryf hoe dat in die Millennium (die eerste duisend jaar van God se Koninkryk nadat Jesus na die aarde terug gekom het) 'n tempel in Jerusalem gebou sal word. God se "huis" is waar Hy wil woon, en Jesaja 66:1,2 vertel vir ons dat Hy in die harte van mense sal kom woon wat nederig teenoor Sy woord is. Jesus bou dus vir God 'n geestelike tempel om in te woon, bestaande uit ware gelowiges.

Beskrywings van Jesus as die hoeksteen van God se tempel (1 Petrus 2:4-8) en van Christene as lewende stene van die tempel (1 Petrus 2:5) het nou soveel meer betekenis.

3. Die Troon

"Ek sal sy (Christus s'n) koninklike troon bevestig tot in ewigheid . . . jou (Dawid) huis en jou koningskap . . . jou troon sal vasstaan tot in ewigheid" (2 Samuel 7:13,16 vgl. Jesaja 9:6,7). Christus se koninkryk sal dus gebaseer word op Dawid se koninkryk van Israel; dit beteken dat die toekomstige koninkryk van God 'n hervestiging van die koninkryk van Israel sal wees – sien Studie 5.3 vir meer detail hieroor. Om hierdie belofte te vervul, moet Christus op Dawid se "troon", of plek van heerskappy, heers. Dit was letterlik in Jerusalem. Dit is nog 'n bewys dat die koninkryk hier op aarde gevestig moet word om die beloftes te vervul.

4. Die Koninkryk

"Jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou" (2 Samuel 7:16) dui daarop dat Dawid die vestiging van Christus se ewige koninkryk sal aanskou. Hierdie was dus 'n indirekte belofte dat hy opgewek sal word wanneer Christus terugkom sodat hy met sy eie oë die koninkryk, wat wêreldwyd opgerig sal word, sal sien, met Jesus wat sal heers vanuit Jerusalem.

Dit is uiters noodsaaklik dat ons hierdie dinge wat aan Dawid belowe is, verstaan. Dawid het vol vreugde van hierdie dinge gepraat as 'n "ewige verbond . . . want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?" (2 Samuel 23:5). Hierdie dinge het ook betrekking op ons saligheid; so moet ons dan ook met vreugde en diepe begeerte na hulle verlang. Ons beklemtoon dit weereens dat hierdie leerstellings baie belangrik is. Dit is 'n tragedie dat die Christendom leerstellings leer wat hierdie wonderlike waarhede dood eenvoudig weerspreek:-

  • As Jesus "vooraf bestaan" het, d.i. 'n persoon was voor hy gebore is, dan word die beloftes dat Jesus Dawid se "saad" of nageslag sal wees, heeltemal onsinnig.

  • As God se Koninkryk in die hemel gaan wees, dan kan Jesus nie Dawid se koninkryk van Israel hervestig nie, en kan hy nie vanaf Dawid se "troon" of plek van heerskappy heers nie.

Hierdie dinge was letterlik op die aarde, en dus moet hulle her-instelling op dieselfde plek wees.

VERVULLING IN SALOMO?

Dawid se letterlike seun, Salomo, het gedeeltes van die beloftes aan Dawid vervul. Hy het 'n letterlike tempel vir God gebou (1 Konings hoofstukke 5-8), en hy het 'n baie welvarende koninkryk gehad. Nasies van oral het verteenwoordigers gestuur om eer aan Salomo te bring (1 Konings 10), en daar was geestelike seëninge deur die gebruik van die tempel. Salomo se heerskappy het dus vorentoe gewys na die veel groter vervulling van die beloftes aan Dawid, wat in Christus se koninkryk gesien sal word.

Sommige mense sê dat die beloftes aan Dawid geheel en al vervul is in Salomo, maar dit word verkeerd bewys deur die volgende:

  • Baie gedeeltes in die Nuwe Testament wys dat die "saad", of nageslag, Christus was en nie Salomo nie.

  • Dawid het die beloftes wat God aan hom gemaak het, verbind met die wat aan Abraham gemaak is (1 Kron. 17:27 = Genesis 22:17,18).

  • Die koninkryk van die "saad", of nageslag, sou vir ewig duur – Salomo s'n het nie.

  • Dawid het besef dat die beloftes oor die ewige lewe gegaan het, en dit sou enige verwysing na sy onmiddellike familie uitsluit: "Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het 'n ewige verbond vir my daargestel . . . " (2 Samuel 23:5).

  • Die saad van Dawid is die Messias, die Verlosser van sondes (Jesaja 9:6,7; 22:22; Jeremia 33:5,6,15; Johannes 7:42). Maar Salomo het later sy rug op God gekeer (1 Konings 11:1-13; Nehemia 13:26) as gevolg van sy huwelike met die wat buite die hoop van Israel was.


  Back
Home
Next