Bybele Beginsels
Studie 3: Die Beloftes Van God.
Die Beloftes Van God : Inleiding | Die Belofte In Eden | Die Belofte Aan Noag | Die Belofte Aan Abraham | Die Belofte Aan Dawid | Inset (Die Vernietiging Van Die Hemele En Die Aarde, Die Aansprake Van "Britse Israelisme") | Vrae

3.3 Die Belofte Aan Noag

Soos die geskiedenis van die mensdom na die tyd van Adam en Eva ontvou het, het die mens al hoe meer goddeloos geword. Dinge het so erg geword dat die beskawing feitlik sonder sedes was, en God besluit het om alles te vernietig, met die uitsondering van Noag en sy familie (Genesis 6:5-8). Hy is beveel om 'n ark te bou waarin hy en verteenwoordigers van elke diersoort moes leef gedurende die tyd wat die wêreld vernietig sou word deur die vloed. Terloops, daar is volop wetenskaplike bewyse dat hierdie ontsaglike vloed letterlik gebeur het, buiten die feit dat die Skriftuur dit duidelik so stel!

Let op dat die aarde (d.i. die letterlike planeet) nie vernietig is nie, net die goddelose menslike stelsel wat daarop was: "alle vlees wat op die aarde beweeg het, het weggesterwe" (Genesis 7:21). Jesus (Mattheüs 24:37) en Petrus (2 Petrus 3:6-12) het albei die oordeel wat in Noag se tyd op die aarde gekom het, vergelyk met dit wat sal gebeur wanneer Christus weer kom. So word die mens se verskriklike goddeloosheid in Noag se tyd gelyk gestel aan die huidige wêreld, wat gestraf gaan word wanneer Jesus terugkeer.

As gevolg van die sondigheid van die mens en die program van selfvernietiging waarmee hierdie planeet besig is, het daar 'n geloof ontstaan, selfs onder Christene, dat die aarde vernietig gaan word.

Hierdie idee wys duidelik 'n gebrek aan begrip van die Bybel se basiese boodskap – dat God aktief besorg is oor die aarde, en dat Jesus Christus binnekort gaan terugkom om God se Koninkryk hier op aarde te vestig. As die mens toegelaat gaan word om die planeet te vernietig, dan kan hierdie beloftes nie nagekom word nie. Genoeg bewyse dat God se Koninkryk op aarde sal wees, word gevind in Studie 4.7 en Studie 5. Intussen beklemtoon die volgende gedeeltes die feit dat die aarde en die sonnestelsel nie vernietig gaan word nie:-

  • "die aarde wat hy vir ewig gegrondves het" (Psalm 78:69).

  • "die aarde bly vir ewig staan" (Prediker 1:4).

  • "son en maan . . . sterre . . . hemele . . . Hy het hulle in stand gehou vir altyd, vir ewig; Hy het 'n wet gegee wat geeneen oortree nie" (Psalm 148:3-6).

  • "die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek" (Jesaja 11:9 ; Numeri 14:21) – onmoontlik as God toelaat dat die aarde homself vernietig. Hierdie belofte is nog nie vervul nie.

  • "Want so sê die HERE, wat die hemele geskape het--Hy is God! --wat die aarde geformeer en dit gemaak het--Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word--Ek is die HERE, en daar is geen ander nie" (Jesaja 45:18). As God die aarde gemaak het net om te sien hoe dit vernietig gaan word, dan was Sy werk vergeefs.

Reg van Genesis af het God al hierdie dinge aan Noag belowe. Soos hy begin lewe het in die nuwe wêreld, na die vloed, het Noag dalk gevrees dat daar nog 'n vernietiging kan wees. Hy het dalk na die vloed hieraan gedink, elke slag as dit gereën het. So het God toe 'n verbond gemaak ('n reeks beloftes) dat dit nooit weer sou gebeur nie :-" Maar Ek, kyk, Ek rig my verbond met julle op en met julle nageslag ná julle, en met al die lewende wesens wat by julle is: die voëls, die vee en al die wilde diere van die aarde by julle--al wat uit die ark uitgegaan het, naamlik al die diere van die aarde. En Ek rig my verbond met julle op, dat alle vlees nie meer deur die waters van die vloed uitgeroei sal word nie, en dat daar geen vloed meer sal wees om die aarde te verwoes nie. En God het gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek sluit tussen My en julle en al die lewende wesens wat by julle is, vir ewige geslagte" (Genesis 9:9-12).

Hierdie verbond is deur 'n reënboog bekragtig:- ". . . my boog gee Ek in die wolke; dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en die aarde. As Ek dan wolke oor die aarde bring en hierdie boog verskyn in die wolke, dan sal Ek dink aan my verbond wat daar bestaan tussen My en julle en al die lewende wesens, in alle vlees. En die waters sal nie meer 'n vloed word om alle vlees te verdelg nie. As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. En God het vir Noag gesê: Dit is die teken van die verbond wat Ek opgerig het tussen My en alle vlees wat op die aarde is" (Genesis 9:13-17).

Omdat dit 'n ewige verbond is tussen God en die mense en diere van die aarde, volg dit dat die aarde vir ewig mense en diere sal hê wat daarop lewe. Dit opsigself is bewys dat God se Koninkryk op aarde gaan wees, eerder as in die hemel. Dus is die belofte aan Noag 'n basis van die Evangelie van die Koninkryk; dit wys hoe God se aandag op hierdie planeet gefokus is, en hoe Hy 'n ewige doel daarmee het. Selfs in woede onthou Hy genade (Habakkuk 3:2), en Sy liefde is van so 'n aard dat Hy selfs vir die diere wat Hy geskep het omgee (1 Korinthiërs 9:9 vgl. Jona 4:11).


  Back
Home
Next