Inset 6: Calvinisme
'n Paar honderd jaar gelede het Calvyn geleer dat ons lewens vooruit bepaal is en dat ons vrye wilsbesluite geen invloed op ons saligheid het nie. Dit is vooruit bepaal of ons lot saligheid of verdoemenis is. Hierdie idee het in verskeie moderne vorme weer te voorskyn gekom, nl:
Dat daar geen nodigheid is om vir God se sorg te vra in situasies in die alledaagse lewe nie, aangesien alles in elk geval vooruitbepaal is. Om byvoorbeeld te bid vir 'n veilige reis is dus sinneloos, aangesien "jou nommer sal opkom as dit jou beurt is."
Daar is 'n menigte grondige Bybelse redes om hierdie filisofië te verwerp:-
Die doop is 'n voorvereiste vir Redding (Markus 16:16 ; Johannes 3:3-5). Dit word deur Calvyniste ontken. Redding word egter moontlik gemaak op grond van die werk van Christus (2 Timoteus 1:10), nie deur die abstrakte konsep van predestinasie nie. Ons moet bewustelik 'n keuse maak om onsself met Jesus te assosieer deur die doop. Romeine 6:15-17 praat van die feit dat daar van "meester" verander moet word – vanaf 'n lewe van sonde tot 'n lewe van gehoorsaamheid.
" Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid?Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is," (Romeine 6:15-17).
Hierdie woorde van onderdanigheid toon duidelik die konsep van vrye wil aan, en nie onvoorwaardelike vooruitverkiesing nie. Die onderdanigheid is deur gehoorsaamheid, uit die hart, aan die leerstellings van die Evangelie (Romeine 6:17).
Ons sal geoordeel word volgens ons werke (Openbaring 22:12). Hoekom so as ons besluite en optredes uit vrye wil onverwant staan tot ons redding? Paulus het gesê dat die Jode hulleself onwaardig geoordeel het ten opsigte van die ewige lewe, omdat hulle die woord van God verwerp het (Handelinge 13:46). Hulle het hulleself geoordeel – God het hulle nie verhoed of dit vooraf so bepaal nie.
As ons sê dat God sekere mense uitverkies tot redding en ander nie, dan is dit streng gesproke God wat sekere mense dwing om sondaars te wees, terwyl Hy ander dwing om geregtig te wees. Dit is as gevolg van Adam se sonde dat " die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het" (Romeine 5:12).
Mense sterf as 'n straf vir sonde (Romeine 6:23), nie omdat God hulle gedwing het om sondaars te wees, of hulle nooit 'n geleentheid gebied het om 'n keuse uit te oefen tussen gehoorsaamheid aan hulle eie wil of gehoorsaamheid aan God se wil nie.
1 Korinthiërs 10 en baie ander versgedeeltes verwys na voorbeelde as waarskuwing vir gelowiges, van diegene wat in die verlede 'n verhouding met God gehad het, maar toe afvallig geraak het. Die feit dat dit moontlik is om "van die genade te verval" (Galasiërs 5:4), beteken dat daar nie 'n "eenkeer gered altyd gered" stelsel van saligheid, soos deur Calvyn vereis, bestaan nie. Slegs deur aan te hou om aan die ware leerstellings te glo kan ons gered word (1 Timotheüs 4:16).
Ons moet dus self die woord wil verstaan – ons word nie gedwing om dit te doen nie. Omdat God se gees so uitnemend deur Sy Woord geopenbaar word – selfs tot die mate dat Jesus kon sê dat sy geïnspireerde woorde "gees" was (Johannes 6:63), is dit onmoontlik dat God se gees op 'n mens sal inwerk afsonderlik van sy woord.
"En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet" (Openbaring 22:17). Dit word bereik deur te reageer op die Woord van die lewe soos gevind in die Evangelie.
Hier word tog sekerlik verwys na 'n vrye wil, eerder as uitverkiesing. So ook Handelinge 2:21: "En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word."
|