Bybele Beginsels
Studie 11: 'n Lewe in Christus
Inleiding | Heiligheid | Die gebruik van geweld | Die politiek | Wêreldse plesier | Bybelstudie | Gebed | Verkondiging | Kerklewe | Die breek van brood - Nagmaal. | Die Huwelik | Gemeenskap | Vrae

11.5 Gemeenskap

Die Griekse woord wat as "gemeenskap" vertaal word, beskryf 'n toestand van kameraadskap, om iets te deel of mede-deelsaamheid. Deur vir God te ken en Sy weë te volg, het ons gemeenskap met Hom en almal wat dieselfde doen deur "in Christus" te wees. Dit is maklik om ons verantwoordelikhede ten opsigte van gemeenskap met ander na te laat: "Vergeet die weldadigheid en mede-deelsaamheid (dit is gemeenskap) nie" (Hebreërs 13:16). Filippense 1:5 praat van ons "gemeenskap aan die evangelie"; die basis van ons gemeenskap is dus die leerstellings wat die ware Evangelie behels. Daarom is die gemeenskap wat deur ware gelowiges geniet word veel groter as in enige ander organisasie of kerk. Vir hierdie gemeenskap reis hulle lang distansies om by mekaar te wees en om geïsoleerde gelowiges te besoek. Paulus praat van "gemeenskap van die Gees" (Filippense 2:1), dit is gemeenskap wat gebaseer is op ons gemeenskaplike strewe om die wil van God, soos geopenbaar in Sy Gees / Woord, te volg.

Een van die beste voorbeelde van ons gemeenskap met mekaar is deur die "breek van brood" diens saam te hou. Die vroeë gelowiges het "volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede . . . brood gebreek . . . met blydskap en eenvoudigheid van hart geniet" (Handelinge 2:42,46). Die embleme, wat die middelpunt van ons hoop verteenwoordig, word gebruik om ons saam te bind in 'n eenheid van hart. ". . . die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is dit nie die gemeenskap met die bloed van Christus nie? Die brood wat ons breek, is dit nie die gemeenskap met die liggaam van Christus nie? Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood" (1 Korinthiërs 10:16,17).

Ons het dus 'n verpligting om die simbole van Christus se offer te deel met die wat deel is van die een liggaam, díe wat "deel aan die een brood." Slegs die wat behoorlik in Christus gedoop is, nadat hulle die Waarheid gevind het, is in hierdie posisie, en dit is 'n bespotting van die embleme om hulle te deel met iemand wat apart van hierdie dinge is.

Johannes vertel hoe hy die Evangelie van die ewige lewe gedeel het met ander "sodat julle ook gemeenskap met ons kan hê; en ons gemeenskap is met die Vader en met Sy Seun, Jesus Christus" (1 Johannes 1:3). Dit wys dat gemeenskap gegrond is op 'n gesamentlike begrip van die ware Evangelie, en dat dit ons in gemeenskap bring met ander ware gelowiges, asook met God en Jesus op 'n persoonlike vlak. Hoe meer ons die Evangelie in ons lewens toepas, en sodoende ons sondige neigings oorwin, en hoe verder ons vorder in ons pogings om God se Woord te verstaan, hoe dieper sal ons gemeenskap met God en Christus wees.

Ons gemeenskap met God en Christus en ander gelowiges rus nie net op die feit dat ons 'n gesamentlike doktrinale geloof het nie. Ons manier van lewe moet pas by die beginsels wat in ons geloof vervat word. " En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde" (1 Johannes 1:5-7).

Om "in die duisternis te wandel" moet verwys na 'n lewenswyse wat gedurig en openlik teenstrydig is met die lig van God se Woord (Psalm 119:105; Spreuke 4:18,19); dit verwys nie na sondes wat slegs nou en dan in swakheid gedoen word nie, want die volgende vers gaan aan, "As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie" (1 Johannes 1:8). God se Woord is lig en Waarheid (Johannes 17:17; 3:21; Efesiërs 5:13).

Hieruit behoort dit duidelik te wees dat gemeenskap ophou wanneer 'n gelowige leerstellings begin aanhang, of 'n lewe lei wat openlik teen duidelike Bybellering is ". . . en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer" (Efesiërs 5:11). Elke moontlike poging moet gemaak word om die wat dwaal terug te wen, soos die goeie herder sy verlore skape (Lukas 15:1-7). As die broer of suster aanhou met vals leerstellings of uitermate swak gedrag, word dit nodig om die beëindiging van gemeenskap te formaliseer (Mattheüs 18:15-17).

In die praktyk word dit gedoen deur middel van 'n onderhoud met verantwoordelike lede van 'n ekklesia, en bekendmaking van die feit in 'n Christadelphian maandblad. Maar dit kan nie genoeg beklemtoon word dat hierdie proses net in werking gestel word in duidelike gevalle waar iemand 'n vals leerstelling verkondig, of waar die persoon volhou met 'n ongeestelike lewenswyse. Mens moet seker wees dat daar so min in gemeen is tussen ons, as gevolg van die afdwaling van basiese Bybelleerstellings, dat formele beëindiging van gemeenskap nodig is.

Een van die duidelikste skrifgedeeltes oor gemeenskap, word gevind in 2 Korinthiërs 6: 14-18: " Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige."

Ons het gewys hoe dat die Woord van God lig is. Hierdie verse verduidelik waarom ons nie gemeenskap met kerke wat vals leerstellings verkondig, moet hê nie; waarom ons nie moet trou met die wat nie die Waarheid ken nie, en dat ons die weë van die wêreld moet vermy. Omdat ons onsself afsonder van die wêreld, het ons die wonderlike eer om God se eie seuns en dogters te word, deel van 'n wêreldwye familie van mense wat hierdie selfde verhouding het – ons broers en susters. Daar is net "een liggaam", dit is een ware kerk (Efesiërs 1:23), wie se lede bestaan uit die wat die een hoop het – een God, een doop en "een geloof", dit is die een ware stel leringe wat die een geloof behels (Efesiërs 4:4-6). Dit is nie moontlik om deel van hierdie "een liggaam" te wees en terselfde tyd gemeenskap te hê met ander godsdiensorganisasies wat nie die ware geloof het nie.

Aangesien lig geen gemeenskap met donker het nie, plaas ons onsself in die donker as ons kies om met sulkes gemeenskap te hê. As ons werklik die hele sisteem van doktrinale waarheid waardeer, soos dit in die Skriftuur bekend gemaak is, sal ons sien dat die wat glo in vals leerstellings in die naam van Christendom net so min gemeenskap met God kan hê as wat ateïste het.

As u hierdie studies noukeurig gevolg het, sal dit teen hierdie tyd duidelik wees dat daar geen halfpad posisie kan wees in ons verhouding met God nie. Ons is of in Christus, deur die regte doop, of ons is buite hom. Ons is of in die lig as gevolg van ons begrip van ware leerstelling en praktiese gehoorsaamheid daaraan, of ons is in die donker. Ons kan nie 'n voet in altwee kampe hê nie.

Ons kennis van hierdie dinge gee vir ons 'n sekere mate van verantwoordelikheid teenoor God. Ons lewe nie nou meer soos die gewone mens van die wêreld nie. God wag intens op ons reaksie. Beide Hy, die Here Jesus, en alle ware gelowiges wil bitter graag hê dat u die regte besluit moet maak. Maar ten spyte van die feit dat God, Christus en ons alles sal doen om u te help – selfs in God se geval dat Hy Sy enigste Seun gegee het om vir ons te sterf – bly u verlossing in u eie hande. U verlossing hang af van u eie vrywillige besluit om die wonderlike Hoop aan te gryp wat nou aan u geoffer is.


  Back
Home
Next