Bybele Beginsels
Studie 11: 'n Lewe in Christus
Inleiding | Heiligheid | Die gebruik van geweld | Die politiek | Wêreldse plesier | Bybelstudie | Gebed | Verkondiging | Kerklewe | Die breek van brood - Nagmaal. | Die Huwelik | Gemeenskap | Vrae

11.1 Inleiding

Die doop gee vir ons 'n sekere hoop om die ewige lewe in God se Koninkryk te beërwe. Hoe meer ons die sekerheid van hierdie hoop glo en waardeer, hoe meer word dit duidelik dat dit verantwoordelikhede op ons plaas. Dit beteken dat ons nou 'n lewe moet lei wat pas by iemand wat die hoop het om eendag deel te hê aan God se natuur (2 Petrus 1:4) en Sy Naam (Openbaring 3:12), deur volmaak in elke opsig gemaak te word.

Ons het in Studie 10.3 verduidelik dat ons na ons doop verbind is tot 'n lewe van voortdurende kruisiging van die sondige begeertes van ons natuur (Romeine 6:6). As ons onwillig is om dit te probeer doen is die doop sonder betekenis. Dit kan slegs plaasvind nadat 'n mens bereid is om die verantwoordelikhede van die nuwe lewe wat ons moet lei, te aanvaar.

Met die doop sterf ons ou, natuurlike manier van lewe, en word ons figuurlik saam met Christus opgewek. " As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is" (Kolossense 3:1-5).

Na ons doop is ons verbind tot 'n lewe wat dinge uit God se Hemelse perspektief sien, waarin ons aan Hemelse (geestelike) dinge dink. Ons wêreldse ambisies moet nou plek maak vir 'n ambisie om ons vleeslike neigings te oorwin en om sodoende vir God te behaag.

Die menslike natuur is geneig om entosiasme en gehoorsaamheid aan God met rukke en stote te wys. God waarsku ons dikwels hierteen. Wat Sy gebooie betref sê Hy : "Wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe . . " (Ezekiël 20:21).

As ons bewus is van God se gebooie, en ons hulle begin gehoorsaam wanneer ons gedoop word, dan is ons verbind tot 'n lewenslange gehoorsaamheid aan hulle.


  Back
Home
Next