Bybele Beginsels
Studie 5: Die Koninkryk Van God
Die Koninkryk Gedefinieer | Die Koninkryk Bestaan Nie Nou Al Nie | Die Koninkryk Van God In Die Verlede | Die Koninkryk Van God In Die Toekoms | Die Millennium | Inset (Die Koninkryk Is 'N Letterlike Werklikheid., Opsomming Van Die Geskiedenis Van Israel) | Vrae

5.2 Die Koninkryk Bestaan Nie Nou Al Nie

Daar is die idee by baie dat God se Koninkryk nou al volledig bestaan en wel as die huidige gelowiges – die "kerk". Dit is waar dat ware gelowiges in die proses is om gered te word en 'n hoop het op 'n plek in die koninkryk . Daar kan egter nie twyfel wees dat ons nie nou volkome in die Koninkryk kan wees nie aangesien Jesus nog nie teruggekeer het om dit te vestig nie.

Dit behoort duidelik uit ons studie so ver te wees dat "vlees en bloed nie die koninkryk van God kan beërwe nie" (1 Korinthiërs 15:50). Ons is "erfgename van die koninkryk wat Hy beloof het aan die wat Hom liefhet" (Jakobus 2:5). Die doop maak ons erfgename van die beloftes wat aan Abraham gemaak is – beloftes wat die basiese Evangelie van die Koninkryk behels (Mattheüs 4:23; Galasiërs 3:8, 27-29). Beloftes van die Koninkryk met Jesus se wederkoms is volop in die Bybel.

Dit is dan wanneer die beloftes aan Abraham vervul sal word (Mattheüs 25:34 ; 1 Korinthiërs 6:9,10 ; 15:50 ; Galasiërs 5:21; Efesiërs 5:5). Die blote feit dat daar altyd van 'n toekomstige erfenis gepraat word, wys dat die Koninkryk nie 'n gelowige se huidige besitting kan wees nie.

Jesus het 'n gelykenis vertel om diegene wat gedink het dat die koninkryk onmiddellik sou verskyn tot regte insigte te bring. Hy sê "'n man van hoë geboorte het na 'n ver land gereis om vir homself 'n koninskap te ontvang en dan terug te kom."Hy het sy knegte agtergelaat met sekere verantwoordelikhede :– "En toe hy teruggekom, nadat hy die koninskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy geld gegee het, by hom geroep moes word," en hy het hulle toe geoordeel (Lukas 19:11-27). Die man van hoë geboorte verteenwoordig Christus wat na die hemel ("ver land") gegaan het om 'n Koninkryk te ontvang waarmee hy sal terugkeer. Dit is dus onmoontlik vir die "diensknegte" om die Koninkryk nou te kan besit ten tye van hulle meester se afwesigheid. Die volgende is verdere bewyse hiervan :

  • "My koninkryk is nie van hierdie wêreld (era) nie" het Jesus gesê in Johannes 18:36. Maar selfs toe kon hy sê "Ek is 'n koning" (Johannes 18:37). Jesus se huidige koningskap beteken dus nie noodwendig dat sy Koninkryk ook nou gevestig is nie. Selfs die gelowiges in die eerste eeu word beskryf as die wat "ook die koninkryk van God verwag het" (Markus 15:43).

  • Jesus sê aan sy dissipels dat hy nie weer wyn sou drink nie "tot op daardie dag wanneer ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader" (Mattheüs 26:29). Dit impliseer duidelik dat die koninkryk in die toekoms moet wees.

  • Jesus het vertel van tekens wat sy tweede koms vooraf sou gaan, en met die volgende woorde afgesluit, "So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur" (Lukas 21:31). Dit is onlogies as die koninkryk nou al, voor sy tweede koms, reeds bestaan.

  • "Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan" (Handelinge 14:22). Geen wonder dat alle lydende gelowiges opreg bid dat die koninkryk moet KOM nie (Mattheüs 6:10).

  • God roep ons "tot Sy koninkryk en heerlikheid" (1 Thessalonicense 2:12); en ons moet "toegang" tot daardie koninkryk soek deur nou 'n geestelike lewe te leef (Mattheüs 6:33).

DIE KONINKRYK VAN GOD IS BINNE JULLE?

Ten spyte van die bogenoemde en ander bewyse verkies baie ortodokse Christene om hulle geloof, dat die Koninkryk van God nou in die harte van gelowiges bestaan, op een enkele versgedeelte te baseer : "En hulle sal nie sê: Kyk hier! of: Kyk daar! nie; want die koninkryk van God is binne-in julle" (Lukas 17:21).

Die konteks wys dat Jesus met die Fariseërs gepraat het, en die "julle" verwys dus na hulle. Hulle was definitief nie ware gelowiges nie – die koninkryk was beslis nie in hulle harte nie. Die Jode het 'n groot vertoon van hulle "ywer" om die Messias te vind gehad. Jesus se punt was dat hulle ironies genoeg gefaal het om te sien dat die koninkryk van God eintlik in hulle midde was, aangesien die koning van daardie toekomstige koninkryk (Jesus) in hulle midde was.


  Back
Home
Next