Bybele Beginsels
Studie 1: God
God Se Bestaan | God Se Persoonlikheid | God Se Naam En Karakter | Die Engele | Inset ("God Is Gees" (Johannes 4:24), Die Gebruik Van God Se Naam., God Manifestasie.) | Vrae

1.1 God Se Bestaan

"Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek" (Hebreërs 11:6).

Die doel van hierdie studies is om mense wat na God soek, te help - mense wat reeds glo dat "Hy is." Ons gaan dus nie probeer bewys dat God bestaan nie. As ons na die ingewikkelde struktuur van ons liggame kyk (vergelyk Psalm 139:15), die ontwerp van 'n blom, die onmeetlikheid van die lugruim op 'n helder aand, hierdie en talle ander aspekte van die lewe, maak dit van ateïsme iets belaglik. Om te glo dat daar geen God is nie, verg meer geloof as om te glo dat Hy bestaan.

Sonder God is daar nie orde nie, geen doel in die heelal nie, en dit sal gesien word in die lewe van 'n ateïs. Dit is dan ook nie verbasend dat meeste mense erken dat hulle in 'n sekere mate in 'n God glo nie, selfs in gemeenskappe waar materialisme die werklike "god" in mense se lewens is.

Daar is egter 'n baie groot verskil tussen 'n vae idee dat daar 'n hoér mag is, en 'n werklike oortuiging van wat Hy bied in ruil vir getroue diens aan Hom. Hebreërs 11:6 bevestig hierdie punt: ons moet glo dat Hy is (m.a.w. dat Hy bestaan) EN dat hy 'n beloner is van die wat Hom soek.

'n Groot deel van die Bybel handel oor die geskiedenis van God se mense, Israel. Herhaaldelik word die punt gemaak dat hulle aanvaarding van Sy bestaan nie genoeg was nie. Hulle moes glo in Sy beloftes. Moses, hulle leier, het vir hulle gesê: "Daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die HERE God is, bo in die hemel en onder op die aarde;daar is geen ander nie. En jy moet sy insettinge en sy gebooie hou" (Deuteronomium 4:39,40).

Dus word dieselfde punt gemaak - 'n bewustheid binne ons dat daar 'n God is beteken nie dat ons outomaties deur God aanvaar word nie. As ons regtig glo dat ons wel 'n skepper het, moet ons dit aanvaar "EN Sy gebooie hou". Die doel van hierdie reeks studies is om te verduidelik wat hierdie gebooie is, en hoe om hulle te hou. Soos ons deur die Skriftuur gaan om dit te doen, sal ons vind dat ons geloof in God se bestaan versterk sal word:

‘Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God" (Romeine 10:17). Die apostel Paulus het by 'n dorp Berea, nou in Noord Griekeland, gekom. Soos gewoonlik het hy die evangelie (goeie nuus) van God verkondig; maar in plaas daarvan dat die mense sonder meer sy woord aanvaar, het hulle "die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was. Baie van hulle het dan ook gelowig geword" (Handelinge 17:11,12).

Die rede waarom hulle kon glo was dat hulle die Bybel gereeld (elke dag) en sistematies ondersoek het. Die ware geloof wat hulle dus ontwikkel het was nie as gevolg van 'n skielike geestelike onthulling deur God nie. Hoe kan mense van die wêreld dan by 'n Pinkster "herlewings" byeenkoms instap, sit en luister, en dan uitgaan as "gelowiges"? Hoeveel daaglikse ondersoek van die Skriftuur was daar in hierdie gevalle?

Hierdie gebrek aan 'n ware Bybel-gebasseerde geloof is die rede waarom so baie "bekeerdes" later vind dat hulle godsdiens eintlik leeg en sonder fondamente is. Die doel van hierdie studies is om vir u 'n raamwerk te gee vir u eie, sistematiese ondersoek van die Bybel sodat u dan ook kan glo. Die nou verband tussen die hoor van die ware Evangelie en die besit van 'n ware geloof word dikwels in die Nuwe Testament uitgewys: "Baie van die Korinthiérs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop" (Handelinge 18:8) ; Mense sal "die woord van die evangelie hoor en gelowig word" (Handelinge 15:7) ; "So preek ons en so het julle geglo"(1 Korinthiërs 15:11).

Die "saad " in die gelykenis van die saaier is die woord van God (Lukas 8:11); terwyl dit in die geval van die moerbeiboom, geloof is (Lukas 17:6). I Timotheüs 4:6 praat van die "woorde van die geloof en van die goeie leer" en dit kan slegs inslag vind in 'n hart wat ontvanklik is vir God en Sy woord. Geloof is die gevolg van die aanvaarding en begrip van God se woord wat in Johannes 17:17 "die waarheid" genoem word.


  Back
Home
Next